Bouwer Bosch het “Liefde Love Uthando” in Maart vanjaar geskryf tydens `n wegbreek-vakansie in die Drakensberge. “Bouwer sê: “ek wou `n lied skryf wat mense herinner dat ons eintlik meer eenders as verskillend is. Ons lewe in ’n baie unieke land met 12 + kulture en tale. Dit veroorsaak vir baie ryk en mooi dinge in die kunste asook net vir daaglikse interaksies met ander, maar ongelukkig is daar ook kere wat ons so geheg is aan ons eie kulture, dat ons vergeet dat ons almal Suid-Afrikaners is.”

Bouwer span kragte met die talentvolle sangers Gazelle en Freddy L wat beide hul eie verse vir die liedjie geskryf het.  “Daar is `n besonderse sinergie in diversiteit, beide in die natuur en in die samelewing” sê Gazelle. “Hierdie liedjie herinner dat ons almal deel van `n groot geheel is.”

Die musiekvideo van die liedjie sluit danstonele van `n Pantsula groep, ’n Volkspele groep, asook `n Xhosa danser in. Bouwer wou met die video wys hoe baie ons as Suid Afrikaners in gemeen het. Hy sê: “ons is almal trots op ons tradisies en kulture. Alhoewel dit so verskillend is, wys die lied dat die woorde in ons harte dieselfde is – en ons is daardeur eintlik  onlosmaaklik aan mekaar verbind.” “Liefde. Love. Uthando.” is ’n metafoor van jou verhouding met jou gemeenskap, jou land, jou kultuur, jou geskiedenis en jou toekoms. Bouwer sê: “Die lied skep hoop, dit sê dat ons hier wil bly.”

Die baskitaar is een van die belangrikste elemente van hierdie tipe Afrika- genre en Concord  Nkabinde wat al met Johnny Clegg, Abdullah Ibrahim, en Vusi Mahlasela gewerk het, het gesorg dat dit onmoontlik is om nie jou voete te beweeg wanneer jy hierdie lied luister nie.

Bouwer sê dat dit vir hom `n baie spesiale ervaring was om met dié talentvolle musikante en dansers te kon werk: “In die moeilike tye waarin ons onsself bevind met bekgevegte op aanlyn platforms, opinies wat verskil rondom BLM, Suid Afrika se gekompliseerde geskiedenis sien ons daagliks dat om mense te polariseer het ’n geldeenheid op sy eie geword. Dit is maklik om mense teen mekaar op te vryf, maar die doel van hierdie lied en musiekvideo is juis om te wys dat daar hoop en versoening in die erkenning van mekaar se identiteite kan wees.”

Die lied is geskryf en vervaardig deur Bouwer Bosch.

Lirieke – Bouwer Bosch, Gazelle, Freddy L.

Finale meng deur Peach van Pletzen.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply