Nagkantoor

deur Haydee Hollander

‘n Splinternuwe CD – Nagkantoor – met die musiek van Koos du Plessis is pas in die handel uitgereik. Dit is gebaseer op die trefferstuk by KKNK 2004. Twee sangers wat deur die jare bekendheid verwerf het met hulle weergawes van Koos se liedjies, Mathys Roets en Jannie du Toit, span hulle kragte saam op hierdie album. Saam met Mathys en Jannie is twee jong sangeresse, Charlene Truter, wat ook as Kaapse veldaanbieder van Pasella naam gemaak het, en Yolandé Strauss, 2002 Crescendo-finalis van Oudtshoorn.

Dit is nou 20 jaar na Koos du Plessis se vroeë dood en tyd om sy werk weer in oënskou te neem. Soos baie ander kunstenaars, het Koos maar beperkte sukses gehad en ‘n klein maar lojale groepie aanhangers. Waarskynlik omdat hy werklik iets nuuts en van hoë artistieke waarde gebied het, waarvoor daar in daardie jare nie ‘n groot publiek was nie.

Liedjies soos “Kinders van die wind” en “Sprokie vir ‘n stadskind” is reeds in die jare sestig geskryf, maar die platemaatskappye het nie daaraan gebyt nie, bloot omdat dit so ver verwyder was van enigiets wat tot op daardie tydstip kommersiëel suksesvol was in Afrikaans. Veral Laurika Rauch se opname van eersgenoemde lied vir die televisieprogram Phoenix en kie het in 1979 gesorg dat daar van Koos du Plessis kennis geneem word. Hy het in ‘n kort tydjie ‘n legende by ‘n uitsoekgehoor geword, veral deur sy besondere tekste en die raak musiekidioom wat die liriek tot egte kleinkuns omtower.

‘n Menigte sangers het sedertdien van sy liedjies opgeneem, sy werk is in verskillende tale vertaal en ‘n hele aantal huldigingsprogramme het die lig gesien – ‘n pluimpie vir ‘n man wat as digter eerder as musikant beskou is, en homself ook glad nie hoog aangeslaan het in terme van sy musikale vermoëns nie.

Die CD, Nagkantoor, is gebaseer op ‘n verhoogstuk deur PG du Plessis oor Koos Doep se musiek en lewe wat onder regié van Sandra Prinsloo by die KKNK 2004 gedebuteer het, waarin ook twee van ons voorste akteurs, Marcel van Heerden en Frantz Dobrowsky te sien is. Die musiek op die album is geregisseer deur die ervare Christa Steyn op klavier met Susan Mouton (tjello), Mauritz Lotz (kitaar) en Matthys Maree (klawers) om haar by te staan. Koos Doep se musiek word met ‘n nuwe baadjie aangebied en die musiek word op die album gehoor presies soos dit vir die verhoogstuk verwerk is en met dieselfde musikante. Nagkantoor beloof om ‘n versamelstuk te wees op die platerak van elke liefhebber van kwaliteit Afrikaanse musiek.

Lewer kommentaar

Leave a Reply