Geleenthede wink vir Suid-Afrika se jong klassieke musikante. ‘n Maksimum van 25 instrumentaliste kan ‘n happie kry van die prysgeld van altesaam R180 000 by die 42ste Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK).
Jong klassieke musici tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar kan nou registreer vir die gesaghebbende 2026 NJMK. Benewens die prysgeld, sal deelnemers meeding om die gesogte goue, silwer en brons medaljes.
Die 2026 NJMK vind van 30 November tot 5 Desember 2026 by die Endler-saal, Konservatoriumgebou, Victoriastraat, Stellenbosch, plaas.
“Dié kompetisie is al beskryf as een van die mees uitmergelende Suid-Afrikaanse musiekkompetisies. Dit bied ‘n platform vir jong talentvolle musici, aangesien die kompetisie daarop gemik is om tienersterre te identifiseer, bloot te stel en te ontwikkel,” sê Aileen Maas, koördineerder van die NYMC.
“Dit is die enigste Suid-Afrikaanse kompetisie waar die finaliste hul laaste stryd voer, begelei deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO),” sê sy.
Voornemende kandidate van alle provinsies kan vir die kompetisie registreer deur die inskrywingsvorm op die NYMC-webwerf (www.nymc.co.za) te voltooi. Al die inligting en reëls van die kompetisie is pas op die webwerf gepubliseer.
‘n Maksimum van 25 kandidate kan gekies word om in die kompetisie te speel. Hulle sal in vyf kategorieë vir orkesinstrumente meeding – klavier, strykinstrumente, houtblaasinstrumente, koperblaasinstrumente en ander orkesinstrumente (harp, perkussie, marimba, xilofoon, ens.).
Oor die vyf dae-lange kompetisie moet die gekose suksesvolle kandidate ‘n wye repertoire van hul keuse uitvoer wat verskillende stylperiodes en Suid-Afrikaanse komposisies dek. Al die deelnemers sal in die eerste twee rondes speel. Daarna sal 12 semifinaliste in die derde (halfeindronde) ronde meeding om te bepaal wie die top ses musici is.
Die ses finaliste spook dan op 5 Desember 2026 in ‘n galakonsert met die KFO sake uit.
Inskrywings sluit op Dinsdag, 23 Junie 2026.

