Daar is ‘n klomp plekke waarheen mens se siel gaan na jy jou laaste asem uitblaas. Dit hang af wie jy was en as ek praat van wie jy was, praat ek nie van jou naam of jou ma se naam of jou plek nie, ek praat van die klank wat jou stilte maak as jy weg is.

– Ronelda Kamfer – Kompoun.

Spoorsny is Frieda van den Heever (meer bekend as stemkunstenaar, radio-aanbieder en regisseur) se eerste vollengte Afrikaanse album. Hierdie album is gebore uit hunkering, soos meeste ander musiek. Die lewe moes spore laat voor sy kon sny – snitte maak, tracks opneem, instink vertrou. Die spore loop deur landskappe van verlies, verlange, vrae, ekstase, hoop, liefde: lewe … en veral lewe na die dood. Die verlange om te ontsnap, om by die huis te kom, om te vlieg, om te land, om te vergeet, om te onthou, om los te breek, om vas te hou – die paradoks van menswees. Frieda som dit op: “Ek moes leef voordat ek daaroor kon sing.”

Die liedjies op die album is oor jare geskryf en het vorm gekry in die laaste paar jaar. Dit is oorspronklik geskep vir Skoonveld – ‘n produksie by die Woordfees wat gehore gaande gehad het en die Woordtrofee vir beste kontemporêre solo-musiekproduksie gewen het in 2022. Daarna het gehore van den Heever oortuig dat sy ‘n bydrae kan lewer tot die body of work van Afrikaanse musiek en dat sy Afrikaans dit skuld om haar musiek te deel.

Die album is oor die bestek van ‘n paar maande opgeneem saam met die legendariese Jürgen von Wechmar by Sunset Recording Studios en Frieda het saam met twee geniale vervaardigers, Fred den Hartog en Johnny de Ridder, geskaaf aan die liedjies.  Van ons land se voorste sessie-musikante kan ook gehoor word op die album.

Die eerste enkelsnit op Spoorsny, “Bon Voyage”, was die heel laaste liedjie wat van den Heever geskryf het voor die album opgeneem is. Sy wou graag saam met Die Heuwels Fantasties werk omdat sy al drie snitte in die verlede saam met hulle opgeneem het (“Mangemaak”, “Pêrels” en “Lewensredders” en “Nodig”). “Bon Voyage” het die lig gesien saam met Pierre Greeff en Fred den Hartog as vervaardiger.

Jozua Malherbe en Rolanda Marais was aan die stuur van die regie en verfilming van die “Bon Voyage” video, die kamerawerk was deur Lourens van Rensburg (7Films), redigering Damiane van Reenen en die gradering deur Justin Wall.

Bon Voyage

Ander hoogtepunte op die album sluit in “Slot Wat Aanhou”, ‘n duet met Laudo Liebenberg, “Huis Toe” – ‘n gunsteling onder gehore wat die musiekproduksie kom kyk het, Asem wat dikwels op RSG speel die afgelope paar jaar, “Branders ken strande” wat Frieda geskryf het op die eerste Kersdag na haar man se dood en “Soos ‘n Gebed”, die enigste lied wat nie uit van den Heever se eie pen kom nie. Dis ‘n toonsetting van ‘n gedig deur Hilda Smits (Ingrid Jonker-pryswenner van 2017) wat vervat is in haar merkwaardige bundel mag die diep slaap jou dan (2021).

Hierdie album roep diep herinneringe op van wat dit beteken om ten volle mens te wees. In hierdie land. In hierdie taal. Maar ook oral. Frieda van den Heever probeer die kompleksiteit van menswees te vertolk deur woorde te gee vir die gans onbeskryflike, ‘n onbegonne taak, soos sy self erken. Sy poog deurgaans om te skryf soos sy ruik, om te sing soos sy praat, om op te spoor wat sy hoor.

Spoorsny – Frieda van den Heever

Leonard Cohen het gesê: “Whatever pain you can’t rid of, make it your creative offering.” Hierdie album is van den Heever se aanbod. Dis nie ligte musiek nie, maar dit is musiek vol lig.

Spoorsny Album Art Frieda van den Heever 2024
Spoorsny – Frieda van den Heever

Lewer kommentaar

Leave a Reply