In 2003 is Stefan Louw benoem as Beste Manlike Operasanger in Suid-Afrika wat hom onder die top 10 musikante in die land plaas. Tydens sy optrede by Lucit gaan hy van sy gunsteling arias soos Nessun Dorma (Puccini), O Sole Mio (Di Capua), Ah Mes Amis! (Donizetti) en Funiculi-Funicula (Denza) uitvoer. ‘n Cd @ R100 elk sal tydens die vertoning beskikbaar wees.
Liriese tenoor Stéfan Louw het sang aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) studeer van 1988-1991 en sy studies aan die Universiteit van Pretoria voortgesit waar hy ook gereeld as solis vir die Universiteitskoor opgetree het. Hy was lid van die Provinsiale Jeugkoor van Pretoria (1993-1995) en die Pretoria Staatsteater Operakoor (1995-1998) waar hy die Koorlid van die Jaar toekenning in 1996 ontvang. Sedert 1988 tree hy op in verskeie operas en oratorio’s. Hy maak sy debuut as Beppe in I Pagliacci (Pretoria Staatsteater) in April 1999 en ontvang hiervoor die FNB Vita Opera Toekenning vir Beste Nuweling in Opera. Sedertdien is Louw gehoor as Alfredo in La Traviata, Edgardo in Lucia di Lammermoor, Don José in Carmen, Tonio in La fille du Regiment, Cavaradossi in Tosca en Barinkay in Der Zigeunerbaron.
Sy vertonings van Rosini se Stabat Mater en Handel se Messiah is bekend en bemind. Ander operas waarin Louw opgetree het, sluit in Les Conte’s d’Hoffmann, Madama Butterfly, La Traviata, Tosca, Nabucco, Der Fliegende Hollander, Il Barbiere di Siviglia, Rigoletto, die Mozart Requiem, die Brahms Requiem, Carmina Burana, Buchuland, die St John’s Passion, Guiseppe Raffa se Operama van Aida, Manon sowel as Cosi fan Tutte. Louw was ‘n instaan vir die rol van Ferrando in laasgenoemde.
Die Beeld het Stéfan gekies as Beste Manlike Operasanger vir 2003, wat hom onder die top 10 Suid-Afrikaanse musikante plaas. Sy eerste solo album met die titel Stéfan Louw Reflections het in Mei 2003 verskyn en tans is hy besig aan die finale afrondings van ‘n tweede album wat later vanjaar bekendgestel word.
Voorbereidings vir die rol van Alfredo in La Traviata wat in April by die Spoornet Staatsteater in Pretoria opgevoer word, hou hom ook besig, waarna hy na die VSA (Chicago) vertrek om in Junie die rol van Duncan, ‘n Britse Offisier, in Princess Magogo kaDinuzulu by die Ravinia Fees te vertolk. Tydens ‘n Valentynskonsert in Februarie vanjaar, het ‘n resensent (Riek van Rensburg) die volgende oor Louw te sê gehad, ‘Louw confirmed his solid attributes … his clear and agile light tenor soared … his middle timbres were beautiful as they were expressive … there was finesse, flexibility and impressive dramatic poignancy.”
Louw was ‘n semi-finalis in die Llangollen Internasionale Sangkompetisie in Wallis (VK, Junie 2000).