Vonke spat by KKNK

Die wedywering tussen vier studentegroepe om vanjaar se Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater (SPAT) in te palm, kan een van die hoogtepunte by die KKNK 2005 wees.

Die toneeltekste wat deur die Tshwane Universiteit van Tegnologie en die universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat ingeskryf is, is hiervoor gekeur en met Sanlam-borgskappe van R25 000 elk ingestudeer. Wie met die pryse gaan wegstap, is nou in die hande van die regisseurs en akteurs .. En natuurlik die beoordelaars!

Die Tshwane-studente gaan Skimmespel, deur Wim Vorster en die Maties Erwe, deur Adriaan Meyer op die planke bring. Die Vrystaters het die uitdaging aanvaar om twee stukke met verskillende regisseurs op te voer: Chris Vorster se Aasvoëls en Zollie van N. Luwes.

Die stukke word om die beurt in die Griessel-saal opgevoer en die algehele wenner is om 15:30 op 1 April weer op die planke en dit sal g’n Gekkedaggrap wees nie!

Vir die wendramadepartement wag ‘n stewige R100 000 op voorwaarde dat die wenproduksie by twee ander kunstefeeste opgevoer moet word. Die individuele pryse (beste nuwe akteur, regisseur en dramaturg) is elkeen R20 000 werd.

Dié Sanlam-prys is daarop gemik om die standaard van Afrikaanse teater te stimuleer, die skryf van professionele dramatekste aan te moedig en opkomende teaterkunstenaars die geleentheid te bied om hul talente te ontwikkel. Die prysgeld van altesaam R260 000 wat jaarliks beskikbaar gestel word, maak die Sanlam-prys die grootste in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater vir die ontwikkeling van Afrikaanse teaterproduksies.

Volgens die sameroeper van die beoordelaars, die bekende dramaturg Pieter Fourie, is die gekeurde tekste "uiteenlopend en in ‘n klas van hul eie". Hy meen die standaard is in die algemeen hoër as verlede jaar s’n.

Die medebeoordelaars is Margot Luyt, Anthony Wilson, Jeanne Goosen en Hennie van Greunen.

Die eerste Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater is verlede jaar deur die Universiteit Stellenbosch ingepalm met My plaas se naam is Vergenoeg deur George Weideman.

Intussen kan die land se toneelskrywers wat vir 2006 se Sanlam-teaterprys in aanmerking wil kom, maar solank aan die werk spring. Oorspronklike Afrikaanse dramatekste (ongeag dialek of streektaal) kan aan enige van die dramadepartemente by universiteite en technikons in Suid-Afrika vir oorweging voorgelê word, voor 14 Oktober 2005.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar