André Schwartz

André Schwartz is op 13 Februarie 2005 in Johannesburg aangewys as die wenner van die Naledi toekenning vir die beste vertolking in ‘n musiekspel vir sy rol as The Phantom in The Phantom of the Opera.

Hy is ook genomineer vir ‘n Fleur du Cap-toekenning vir sy titelrol in dié musiekblyspel. Dié toekenning vind op 6 Maart 2005 in Kaapstad plaas.

Sy sangloopbaan bestaan uit hoofrolle in musiekblyspele soos Jesus Christ Superstar, Joseph and his Amazing Technicoloured Dreamcoat, tot eenmankabarette, musiekfeeste, optredes op passasierskepe, optredes ten tyde van die Mej. SA kompetisies en ‘n legio vertonings kruis en dwars oor SA.

Verskeie konserte met simfonie orkeste bly van André se gunstelinge. Buiten die grootskaalse musiekblyspele en simfonie optredes is André een van die min ligte musiekkunstenaars wat dit kon regkry om sukses in die suiwer kabaret genre te behaal.

Sy kabaret saam met Elzabé Zietsman by die Klein Karoo Kunstefees is aangewys as die beste in Beeld se top tien produksies. Onder leiding van Alexander Stillmark van Berlin, ‘n kenner op die gebied van Brecht produksies neem André deel aan die Brecht eufees vieringsproduksie. Met sy eie Brecht en Brell produksie, kombineer hy die koue onemosionele Brecht en gevoelvolle Jacques Brel.

In 2002 het Andre, Jannie Moolman en Rina Hugo saamgespan in ‘n uiters suksesvolle huldeblyk aan Gé Korsten. Die klassieke aanslag wat benodig was vir sekere van die liedjies was weereens bewys van André se veelsydigheid.

Die korporatiewe mark is vir hom geen nuwe ervaring nie en dit blyk uit die talle optredes by produkvrystellings, motiverings kongresse en jaareindfunksies vir ‘n verskeidenheid van maatskappye wat wissel van bankgroepe tot skoonheidsprodukte.

Damesoggende is hoog op die gewildheidlys en André trakteer die vroue met sy sjarme, humor en borrelende persoonlikheid.

Op die gebied van rolprent en televisie het André deelgeneem aan waarskynlik elke musiek-georïenteerde program wat daar is. Hy was aanbieder van sy eie speletjiesprogram en spog met vyf solo profiel- programme op sy kerfstok. Ook was hy aanbieder van 26 kosprogramme op M-net en ‘n verdere 30 kosprogramme volg op al 5 hoof TV kanale vir All Gold.

Daar was selfs ‘n optrede in die gewilde MNET sepie Egoli waar André nie ‘n karakter nie, maar homself moes speel, ‘n besondere prestasie aangesien want dit gebeur slegs in uitsonderlike gevalle.

Die aanbieding van dokumentêre programme, oorklankingswerk en radio tel onder sy gunsteling werkopsies. Sy gemak agter die mikrofoon het vir hom die pad oopgemaak as omroeper op Punt Geselsradio. Onder sy ateljeegaste tel bekende musici, sportlui en sakemanne en -vroue.

As platekunstenaar kan hy met reg trots wees op tien uitreikings. Dié sanger is steeds een van die top-verkopers met drie goue plate agter sy naam. Sy nuutste uitreiking Jy sê dis Verby mik ook na trefferstatus. Die CD is in die styl wat Andrè bekend gemaak het en goue status is vanselfsprekend met hierdie uitreiking.
Daar is ‘n ander kant van André Schwartz wat min mense van weet, en dis die sy wat vir ‘n vigs-organisasie werk. Waar hy optree pleit hy vir meer kennis oor die siektetoestand en hoe om dit te voorkom. Verskeie konserte het dan ten doel om fondse te in vir navorsing.
Die afgelope 3 jaar was André deel van ‘n bemarkingsmaatskappy, Snelco, waar hy aktief gewerk en gekonseptualiseer het aan veldtogte vir van die land se top handelsname soos, All Gold, Just Juice, Appletiser, Tastic, Parmalat en vele meer. Verlede jaar wen hy die Raptor toekenning vir sy Appletiser bemarkingsveldtog – nie sleg na net ‘n jaar in ‘n splinternuwe bedryf nie. Hy stig in Oktober 2003 sy eie bemarkingsmaatskappy met die naam Get.

Lewer kommentaar

Leave a Reply