SuperSkouspel

Huisgenoot-Skouspel, die Afrikaanse musiekkonsert wat die afgelope 15 jaar in Sun City gehou is, word vanjaar SuperSkouspel. Pleks van etlike vertonings oor twee naweke is daar vanjaar een groot vertoning vir 30 000 mense op Saterdag 19 September 2015 in die FNB-stadion in Johannesburg.

Huisgenoot het kragte saamgesnoer met kykNET en Big Concerts om vir Skouspel ’n nuwe baadjie aan te trek.

Huisgenoot is die grootste tydskrif in die land, kykNET is die grootste kanaal op DStv en Big Concerts is die grootste konsertpromotor in Afrika. Saam is ons ’n droomspan,” sê Henriëtte Loubser, redakteur van Huisgenoot. “Ons gaan geskiedenis maak deur ’n Afrikaanse musiekkonsert vir die hele gesin in die grootste stadion in Afrika te hou.” Die datum is gekies om saam te val met Erfenisdag (op 24 September) en die Wêreldbeker-rugbytoernooi.

“Ons vier ons Suid-Afrikaanse erfenis met Afrikaans as die hoofkarakter,” sê Karen Meiring, M-Net Direkteur: Afrikaanse Kanale. “SuperSkouspel is vol verrassings. Dis musiek in Afrikaans soos jy dit nog nooit gehoor het nie.”

SuperSkouspel in die FNB-stadion gaan die konsert van die jaar wees,” sê die veteraan-promotor Attie van Wyk en Justin van Wyk, besturende direkteur van Big Concerts. “Hierdie wêreldklas-produksie gaan die eerste konsert in sy soort by die stadion wees waar die verhoog op die middelveld geplaas word, om sodoende ’n intieme buitelug-ervaring te verseker wat toeganklik vir almal is.”

Kunstenaars sluit in ikone soos David Kramer en Leon Schuster wat hul treffers gaan sing. Ook Skouspel-gunstelinge soos Kurt Darren, Die Heuwels Fantasties, Karen Zoid, Adam Tas, Emo Adams, Andriëtte en Adam. Francois van Coke is een van verskeie nuwe stemme en gaan sy treffer saam met Zoid, “Toe Vind Ek Jou”, sing. Die gehoor kan ook uitsien na optredes deur groepe soos Mango Groove en Freshlyground.

SuperSkouspel 2015
SuperSkouspel 2015
’n Hoogtepunt van die aand is die internasionale gaskunstenaar: die Skotse sangsensasie Susan Boyle. Dit is die eerste keer dat sy in Afrika optree en sy sal net by SuperSkouspel te sien wees.

Ian von Memerty is die kreatiewe regisseur en Janine Neethling die musiekregisseur. Albei is gerekende name in die vermaaklikheidsbedryf. Die kunstenaars sal saam met ’n simfonie-orkes en twee kore optree.

Checkers is vir die 13de jaar as hoofborg betrokke en Clover is ook weer aan boord.

Suid-Afrika se eerste Wêrelbeker-rugbywedstryd (teen Japan), wat om 17:45 SA tyd begin, sal regstreeks op grootskerms in die stadion gewys word sodat konsertgangers dit kan kyk. Die SuperSkouspel-vertoning begin dan om 20:00 op 19 September.

Kaartjies kan by Computicket gekoop word. Die pryse begin vanaf R199. Veilige parkering en parkeer-ry-opsies vanaf verskeie plekke in Gauteng sal ook deur Computicket gekoop kan word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply