Die Jakes Gerwel Stigting en die Suidoosterfees nooi liriekskrywers en sangers wat oorspronklike liedjies in Afrikaans, Engels of isiXhosa skep om aansoek te doen vir deelname aan ’n uitgebreide mentorskapprogram. Die klem van die projek val op eg Suid-Afrikaanse klanke en vars lirieke. Belangstellendes moet teen 28 Junie 2021 ’n voorlegging van hoogstens drie voorbeelde van hul lirieke saam met ’n kort motiveringsbrief en CV na theo@jgf.org.za stuur.
Die program fokus daarop om opkomende liriekskrywers die geleentheid te gee om hulle vaardighede te slyp en om toegang tot die mededingende Suid-Afrikaanse musiekbedryf te kry. Suksesvolle kandidate sal van 1 tot 15 September 2021 deelneem aan die verblyfprogram by die Stigting se Paulet-skrywershuis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap. Alle reiskostes, asook maaltye en verblyf, word gedek.
Frazer Barry, bekende musikant, skrywer, vervaardiger en televisie-aanbieder, sal as die mentor optree. Na afloop van die program sal deelnemers saam met Barry en ander professionele kunstenaars werk aan ’n produksie wat in 2022 tydens die Suidoosterfees debuteer. Vanjaar was Drome het vlerke, die soortgelyke produksie saam met die vorige groep deelnemers, een van die feeshoogtepunte.

Naaim Briesies, wat verlede jaar deelgeneem het, sê: “Ek beveel enige kunstenaar aan om aansoek te doen en deel te raak van hierdie briljante inisiatief. Jou drome kan net vlerke kry onder Frazer Barry se leiding en mentorskap.”
Theo Kemp, die Jakes Gerwel Stigting se uitvoerende direkteur, se entoesiasme oor die projek is net so groot. “Gemeet aan die uitstaande aansoeke wat ons verlede jaar vir die eerste program ontvang het, is ek opgewonde oor die oes van vanjaar se jong stemme. Hierdie projek is gerig op die onmeetbare hoeveelheid talent daar buite wat ons graag wil help ontwikkel.”
Die Suidoosterfees vier die kunste jaarliks tydens hul fees en lewer ’n waardevolle bydrae om aspirantkunstenaars en gemeenskappe deur ’n verskeidenheid opleidingsprogramme te ondersteun en te ontwikkel. Die Jakes Gerwel Stigting bied opleidingsprojekte en skryfgeleenthede aan hoofsaaklik opkomende skrywers om sodoende nuwe stories en ervaringswêrelde wat in allerlei genres vertel word, na ons literatuur te bring.