Margit Meyer-Rödenbeck … Marion Holm … twee name wat jou klaar laat lag al lees jy dit net. En wanneer laas het jy die kans gehad om hulle op ’n verhoog te geniet? Die víéslike virus het die hele toer van hulle produksie Die voordele van eierwit gekelder, so hulle het – danksy die Vrystaatse Kunstefees – ’n aanlyn weergawe daarvan gemaak en stel dit nou beskikbaar vir Vadersdag, Jeugdag, Vrydag… man, enige dag tussen 13 en 30 Junie 2021. Kaartjies kos R100 en kan bespreek word by Webtickets.
Die voordele van eierwit: Kyk… as daar nou één dag is wat hierdie twee susters nie tyd het om in ’n hysbak vas te sit nie, dan is dit vandag. Daar is ’n duisend dinge… mans, kinders, specials by Checkers, vraestelle om te merk, huise om te verkoop, wat om vanaand gaar te maak (die een kind is mos nou ’n Vegan) en pa se woonstel wat gepak moet word om in te pas in die aftreeoordkamer.
Die susters se lewens is gejaagd, maar wat as dit vir ‘n oomblik – noodgedwonge – stop? As ons dalk kan vra dat jy net vir hierdie maand dalk die “save the whales” kan opsy sit en eerder “save one whale and one kwikstertjie” kan bybring? Doen dit sommer nou by Webtickets.
