Die Vriende van Afrikaans het (VVA) op hierdie grootse musiekprojek besluit om die wonderlike koorwerk van Rachmaninof meer toeganklik te maak vir kore in Suid-Afrika.
Die volledige werk sal vir die eerste keer in sy geheel in Afrikaans in die historiese Moederkerk op Stellenbosch uitgevoer word deur die twee kore van Leon Starker. Die uitvoering sal voorafgegaan word deur orrelspel van Zorada Temmingh wat ’n improvisasie van die vespers sal doen. Dit gebeur op Taaldag, 14 Augustus 2010. Op 21 Augustus word dit herhaal in die kapel van die Bishops Seunskool. Die kore beplan ook ’n koortoer in September en sal die werk graag in die Voortrekkermonument en ook in Johannesburg wil uitvoer.
Die vertaling en musiek sal ná 14 Augustus op die webwerf van die VVA gratis beskikbaar wees vir enige koor om af te laai en te gebruik. Kopiereg van die vertaling sal aan die VVA behoort en gelde sal betaalbaar wees indien die werk kommersieel uitgevoer word. Die VVA is in die proses om die vertaling by SAMRO te registreer.

