Wêreldberoemde klarinetvirtuoos maak buiging by Nederburg

David Krakauer, die wêreldberoemde Amerikaanse klarinetvirtuoos wat in 2012 Suid-Afrikaanse gehore gaande gehad het met verbysterende tegniek en spel, maak eersdaags sy buiging op die Nederburg-verhoog. Die konsert, waartydens hy begelei sal word deur die voorsaanstaande Suid-Afrikaanse pianis Kathleen Tagg, vind plaas op Sondag 28 September in die historiese Nederburg-herehuis in die Paarl.


Die duo se program wat eksklusief vir die Nederburg Konsertreeks saamgestel is, sal bestaan uit briljante klassieke werke deur Brahms, Debussy en Janacek in die eerste helfte, met ligter komposisies en ‘n versameling pragtige Klezmer melodieë in die tweede helfte.

In 2012, skryf die resensent Christina Scholtz oor hom: ‘Krakauer gives life to the unseen, the impalpable and the mystical. He is a musical Copperfield, composing and improvising illusionary journeys through past, present and future.’

As gebore en getoë New Yorker word Krakauer bestempel as een van die min kunstenaars wat die vermoë besit om sy boodskap by die gehoor tuis te bring en om ‘n gehoor deur sy instinktiewe krag, wat op ’n universele vlak kontak maak, te roer. Hy word wyd beskou as een van die voorste klarinetspelers van ons tyd en geniet internasionale erkenning as ‘n innoveerder van moderne Klezmer musiek, sowel as as sleutelfiguur in klassieke musiek.

In September 2013 het The Wall Street Journal oor hom geskryf: “David Krakauer is ‘n oorweldig gevoelvolle musikant wat skynbaar so naatloos tussen verskillende genres beweeg, dat mens vir ’n oomblik dink dat daar geen oënskynlike verskil tussen jazz, Klezmer en formele klassieke musiek is nie.”

Die Suid-Afrikaanse pianis Kathleen Tagg geniet aansien vir haar uitstekende tegniek, artistieke integriteit en diep musikaliteit. Sedert Tagg haarself in 2001 in New York gevestig het en in die stad se musieklewe verdiep het, het sy al by talle gesiene konsertvenues soos Carnegie Hall en die Lincoln Centre opgetree.

Krakauer en Tagg sal op Sondag 28 September om 17h00 by Nederburg in die Paarl optree. Kaartjies teen R 200 per person sluit Nederburg wyne en ‘n heerlike vingerete na afloop van die konsert in. Besprekings kan gemaak word gedurende kantoorure by concerts@distell.co.za of skakel tel. 021 809 8412.

David Krakauer
David Krakauer

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar