Wêreldberoemde pianis Cristina Ortiz tree op in Kaapstad

Op Sondag 5 Februarie het Kapenaars die geleentheid om die wêreldberoemde Brasiliaanse pianis Cristian Ortiz se kunstenaarskap te ervaar. Die gevierde pianis wat bekend is vir haar passievolle vertolkings en spontane verhoogpersoonlikheid sal by die Hugo Lambrechts Auditorium in Parow optree.

Cristina Ortiz se natuurlike musikaliteit, meestervolle vakmanskap en toewyding aan verfynde spel het vir haar wêreldwyd ‘n plek verseker as een van die mees gerespekteerde pianiste van ons tyd. Haar merkwaardige tegniek en akute sin vir musikale avontuur is veral duidelik in haar uitgebreide repertorium. Met ‘n indrukwekkende versameling van 30 albums, opgeneem vir EMI Classics, Decca, Collins Classics, en meer onlangs vir Intrada, Naxos en BIS, is dit ‘n verdere bewys dat haar unieke vaardighede as pianis veel verder as die konsertverhoog strek.

Nadat Ortiz dit reggekry het om op 2 jarige ouderdom op haar pa se klavierstoel te klouter, was dit onmoontlik om haar ooit weer van die klavier te skei. Sy het alles op gehoor gespeel totdat sy op 4 jarige ouderdom met formele klavieronderrig begin het. Teen die ouderdom van elf het sy haar eerste concerto gespeel en met 19 het sy die aandag van die klassiekemusiek wêreld aangegryp, toe sy die eerste vroulike pianis was om die gesogte Van Cliburn Internasionale Klavierkompetisie te wen. Hierna het sy onder die mentorskap van die legendariese Rudolf Serkin by die Curtis Instituut vir Musiek in Philadelphia studeer, voor sy besluit het om haar in London te vestig.

Haar energieke en boeiende spel het daarvoor gesorg dat sy vandag uiters geliefd is onder gehore, asook as kritici, agente en professionele kollegas. As gesogte solis, kamermusiekspeler en onderwyser, word Ortiz as een van die top vroulike pianiste in die wêreld beskou.

Tydens haar merkwaardige loopbaan het sy reeds met van die wêreld se bekendste orkeste en dirigente gewerk, o.a. die Berlynse Filharmoniese Orkes, Weense Filharmonie, Chicago Simfonie, Philharmonia en Koninklike Concertgebouw orkeste. Onder die top dirigente met wie sy saamgewerk het tel Neeme Järvi, Mariss Jansons, Kurt Masur, André Previn en David Zinman.

Haar eenmalige Kaapse optrede word in sy geheel aan die musiek van Chopin gewei. Ortiz sal die volledige Ballades en Scherzos van Chopin uitvoer, ‘n spesiale uitvoering waarvoor sy huidiglik groot internasionale lof ontvang. Met haar diep emosionele intensiteit beloof hierdie konsert, in die akoestiek van ‘n manjefieke konsertsaal, om ‘n musikale hoogtepunt van die jaar te wees.

Cristina Ortiz
Cristina Ortiz

Cristina Ortiz se optrede vind plaas by die Hugo Lambrechts Ouditorium in Pictonstraat, Parow, op Sondag 5 Februarie om 15h30. Kaartjies teen R120, R80 (pensionarisse) en R60 (studente/leerders) kan bespreek word by www.webtickets.co.za of tydens kantoorure by tel. 021 461 3816. Kaartjies sal ook by die deur beskikbaar wees.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply