Met Belles & Beaux, vanaf 18-22 Desember in die Kunstekaap Operahuis, bied die Kaapse Stadsballet ‘n program van sprankelende ballet bonbons waarin die dansers hul flair in uittreksels uit verskeie ballette in verskillende style afwys.
Na die sukses van Belles of the Ballet, ‘n program wat spesiaal vir Vrouedag 2013 saamgestel is en die vaardighede van die geselskap se ballerinas afgewys het, kom beide die ballerinas en manlike dansers van die geselskap nou aan die beurt om hul vakmanskap in ‘n hoogs vermaaklike en vrolike vakansieproduksie af te wys.
Van die hoogtepunte sluit die “Tarantella” en “Hey Mambo” tonele uit Robin van Wyk se The Italian Affair in, wat in 2011 ‘n wegholsukses was. Twee van die Kaapse gehore se gunsteling dansers, Mervyn Williams en Johnny Bovang, sal hul slag vir komedie afwys in die “Wals” uit Graduation Ball, deur die Russiese choreograaf David Lachine. Tonele uit die tweede bedryf van Veronica Paeper se aangrypende Spartacus sal gedans word op die emosie-belaaide musiek van Aram Khachaturian.
Uit die klassieke repertoire kan dansliefhebbers onder andere uitsien na grepe uit Diane & Acteon, La Bayedere en Scheherazade.
“The Competition” is ‘n spesiale dans wat die manlike dansers van die Kaapse Stadsballet geleentheid sal bied om hul vernuf te vertoon. Dit is geskep deur Mervyn Williams, wat al 27 jaar aan die geselskap verbonde is as danser, kostuumkoordineerder en betrokke is by hul uitrekprogramme. Nog ‘n vertoonvenster vir die manlike dansers is die “Trepak” uit Die Neutekraker van David Poole.
Die program sal afgesluit word met tonele uit die derde bedryf van Veronica Paeper se sjarmante en komiese ballet; Orpheus in die Onderwêreld, In “Pluto se Nagklub” maak die Mafia en Caliope ‘n draai, terwyl die Kaapse Stadsballet se skoonhede die vertoning sal afsluit met die borrelende can can.

Belles and Beaux word vanaf 18-22 Desember 2013 deur die Kaapse Stadsballet aangebied in die Kunstekaap Operahuis. Besprekings by Computicket of Kunstekaap-bel-‘n-sitplek by 021 421 7695. Kaartjies R 125 – R 225. Spesiale afslagpakette beskikbaar vir groepe van 10 of kombinasie-kaartjies vir meer as een vertoning van die Kaapse Stadsballet.
Opvoerdatums vir Belles & Beaux:
Woe 18 Des @ 19h30
Vry 20 Des @ 15h00
Vry 20 Des @ 19h30
Sat 21 Des @ 14h00
Sat 21 Des @ 19h30
Son 22 Des @ 15h00
Die produksie word met ‘n klankbaan gedans.
(foto Jacques Conradie)
