Coenie die nuwe gesig van ATKV

Coenie de Villiers is aangestel as die uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV, met ingang 1 Desember 2006. Hy is tans die Algemene Bestuurder en Direkteur van Eliance Communication in Pretoria. De Villiers het diep spore in die Afrikaanse kultuurbedryf oor die afgelope twee dekades getrap. Sy prestasies strek oor verskeie sfere, van uitvoerende kunstenaar, televisie- en radiopersoonlikheid tot joernalis en dosent.

De Villiers sê dat dit ‘n wonderlike tyd is om Afrikaans te wees. “Die ekonomie praat Afrikaans; die kultuur sing, skryf en skep in Afrikaans; mense reik na hulle gemeenskappe uit in Afrikaans; hulle kuier en hou vakansie in Afrikaans. Die taal behoort aan almal – jonk en oud – wat hom praat en gebruik. Ek glo daar was nog nooit ‘n beter tyd om Afrikaans in meer harte en meer monde te plaas nie. Die ATKV reik uit deur ‘n magdom projekte en aktiwiteite om Afrikaans meer lewendig, toeganklik en inklusief as ooit te maak. Dis vir my ‘n voorreg en ‘n saak van die hart om hierby betrokke te raak. Hoe anders as ‘n mens in Afrikaans droom, bid en sing?”

Nog ‘n aanstelling is dié van Hennie Bekker as uitvoerende direkteur: ondersteuningsdienste. Bekker is ‘n man met meer as dertig jaar ondervinding in die finansiële wêreld en veral op die gebied van finansiële beplanning. Hy loop ‘n lang pad saam met die ATKV en beskik oor die vaardighede en passie om die finansiële rigting aan te wys en die ATKV se kultuuraktiwiteite te ondersteun. Hy sluit teen middel Oktober 2006 by die ATKV-span aan.

Die ATKV is al 76 jaar lank besig om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder en uit te leef deur middel van hulle projekte en betrokkenheid by Suid-Afrikaanse aktiwiteite. Met die bedanking van dr. Frits Kok het die ATKV aangedui dat drie uitvoerende direkteure, naamlik kultuur, sake en ondersteuningsdienste, aangestel sal word wat direk aan die direksie rapporteer. Die uitvoerende direkteur: sake, sal so spoedig moontlik aangestel word. Die uitvoerende direkteur: kultuur sal in ‘n groot mate die nuwe gesig van die ATKV wees en die ATKV-vaandel in die kultuurwêreld dra. Hierdie nuwe struktuur sal die uitvoerende direkteur: kultuur in staat stel om met groter kultuurfokus die primêre taak van die ATKV te vervul, terwyl die ander twee kollegas op die ondersteuning van die kultuuraktiwiteite fokus. Die direksie is verantwoordelik vir die daarstelling van nodige wigte en teenwigte tussen die drie afdelings en Johan van Schoor, voorsitter van die ATKV-direksie sal deeltyds as uitvoerende voorsitter optree om te verseker dat alles sal plaasvind ten verwesenliking van die ATKV se kultuurtaak.

Van Schoor het genoem dat die ATKV baie tevrede was met die kwaliteit van die aansoeke vir hierdie poste. Hy sê dit dien “as bewys dat die ATKV nog gesien word as ‘n organisasie wat ‘n noodsaaklike rol vervul vir die Afrikaanssprekende in Suid-Afrika. Dit is dan ook ‘n rol wat die ATKV ernstig opneem en sal alles in die stryd werp om nie die Afrikaanssprekende en Suid-Afrika nie teleur te stel nie.”

Die ATKV is ‘n kultuurorganisasie wat trots is om Afrikaans te wees binne Suid-Afrika en beywer hom vir die uitleef en daarstel van Afrikaans deur en vir elke persoon wat gemaklik voel met Afrikaans as taal en sy kultuur, ongeag ras of geslag. Dit is ‘n oopkop-organisasie wat in pas is met veranderinge in Suid-Afrika, sonder om afstand te doen van sy waardes.

Die ATKV wil beide De Villiers en Bekker sterkte toewens met die taak wat vir hulle voorlê en hulle verseker van die ondersteuning van al 189 000 ATKV-lede.

Lewer kommentaar

Leave a Reply