Dolla is ´n vrou waaroor daar baie uiteenlopende opinies is: Sy word gehaat deur sommige; bemin deur te veel; beswadder deur bitterbekke; en bewonder deur haarself.
Sy is ´n vrou met vele talente en uiteenlopende belangstellings; baie kennisse en min kennis.
Sy het sterk opinies – en hulle wissel gereeld.
Dolla is ´n kontroversiële vrou, soos die meeste groot geeste van ons tyd. Die een ding waaroor daar egter nie twyfel kan wees nie, is Dolla se voorliefde vir, en simpatie met die manlike geslag, sy was selfs bereid om met een te trou.
Waarom op aarde word sy dus nou gereeld gesien in die geselskap van ´n vrou?
Waarom ook hierdie spesifieke vrou – die Persheks?
Besef Dolla waarmee sy haar ophou?
Het die Persheks duistere motiewe?
Wat gaan met die onskuldige Dolla gebeur?
Is daar ´n slang in die gras?
´n Geprut in die pot?
´n Kritikus in die gehoor?
En waar is die besem se sleutels?
