Vernuwende denke in die kunste was tydens die Absa KKNK se afgelope Kanna-toekenings die oorheersende tema waar baanbrekers in die kunste vereer is en nuwe stemme beloon is. Die spoggeleentheid het plaasgevind op Sondag 11 Mei by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad.
Tydens die funksie is die volgende persone vereer vir hul bydrae, rol en diens aan die kunste;
Afrikaans Onbeperk vir Lewensbydrae – T.T. Cloete en Koos Human
Afrikaans Onbeperk vir Vernuwende Denke – Nataniël
Afrikaans Onbeperk vir ’n Jong Stem – Christiaan Olwagen
Kuns Onbeperk vir Diens aan die KKNK – Franklin Sonn
Kuns Onbeperk vir Lewensbydrae – Thandi Klaassen
Kuns Onbeperk vir Vernuwende Denke – Jaco Bouwer
Kuns Onbeperk vir Vertolking – Sandra Prinsloo en Shaleen Surtie-Richards
Kuns Onbeperk Kruispunt – Coenie de Villiers en Zolani Mahola
Rhodé Snyman, wat ook tydens die funksie aangewys is as die nuwe Uitvoerende Hoof van Kuns Onbeperk het die pryswenners geluk gewens en gesê dit is vir dié fees ‘n voorreg om erkenning te gee aan die uitblinkers op vanjaar se 20ste fees. “Die Absa KKNK kon nie vir ‘n groter verjaardaggeskenk gevra het, as vanjaar se ryk oes aan nuwe werk van hoogstaande gehalte nie. Ons hoop dat hierdie werk ook elders speelkans sal kry.
Die Kannapaneel het vanjaar meer as 100 produksies, wat oor die 50 debute insluit, beoordeel. “Die Kannapaneel was vanjaar geweldig beïndruk met debuutproduksies, veral wat Toneel betref. Die paneel was dit eens dat vanjaar se Toneel-aanbod een van die heel beste in jare was. Ons is ook opgewonde oor die nuwe kategorie vir Beste Komedie – verskeie opwindende en verruimende produksies het hiervoor in aanmerking gekom. Baie geluk aan almal wat genomineer is en natuurlik aan die uiteindelike wenners. En ’n groot dankie aan die kundige en ywerige Kannapaneel vir al hul harde werk en entoesiasme.” – Erns Grundling, sameroeper van Kannapaneel
Hier volg die lys van die 2014 Absa KKNK Kanna-toekenings.
Kanna vir Beste Teater-aanbieding
• Dogma
Kanna vir Beste Komedie
• Waterpas
Kanna vir Beste Akteur – Manlik
• Gerben Kamper – Samsa-masjien
Kanna vir Beste Akteur – Vroulik
• Antoinette Kellerman – Samsa-masjien
Kanna vir Beste Musiekproduksie
• Finding Emo
Kanna vir Beste Klassieke Musiekuitvoering
• Homage – ’n Huldiging van Suid-Afrikaanse komponiste
Kanna vir Beste Regie
• Jaco Bouwer – Samsa-masjien
Kanna vir Beste Debuutwerk
• Dogma
Slurpie Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar
• Richard September vir sy spel in Rondomskrik
Herrie Kanna vir Kopverskuiwende Werk
• Samsa-masjien
Kanna vir Beste Visuele Kunsaanbieding
• Hannelie Taute – Rubber ever after
Eervolle vermeldings:
Op versoek van die Kannapaneel is daar vanjaar ’n eervolle vermelding vir die puik ensemble-spel van die akteurs in Dogma en Rondomskrik.
Vanjaar se Kannapaneel was Erns Grundling (sameroeper), Abduraghmaan Adams, David April, Charl Bezuidenhout, Ronnie Burton, Diane de Beer, Chrisna du Preez, Cornelia Faasen, Deon Maas, Laetitia Pople, Louis Pretorius, John Theodore, Cobus van Bosch, Johan van der Merwe, Naudé van der Merwe en Celeste Williams.
Al die produksies op die amptelike feesprogram kom in aanmerking vir ’n Kanna en vanjaar was daar benoemings in elf kategorieë – die Kanna vir Beste Komedie is ’n nuwe kategorie.