Kovsies maak skoonskip met Die Begrafnis

Die dramadepartement van die Universiteit van die Vrystaat is vandag (28 Maart) by die Absa KKNK op Oudtshoorn met die 2008-Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (SPAT) bekroon. Hul produksie van Die Begrafnis het skoonskip gemaak met die belangrikste pryse en is vanaand nog ‘n keer op die planke.

Dit is die derde keer dat Vrystaat dié prys wen. Hulle steek daarmee ‘n stewige R100 000 in die sak op voorwaarde dat die wenproduksie deur die loop van die jaar by twee ander kunstefeeste ook opgevoer word.

Die wenstuk, ‘n komedie uit die pen van Phil Janse (skuilnaam), is onder spelleiding van Nico Luwes opgevoer. Die poppe begin dans omdat Ant Vossie se man nie na haar vermanings wou luister nie. Sy’t hom hoeveel keer gewaarsku dat sy gewig hom gaan doodmaak. En nou’s dit Vierman se begrafnis en dis ‘n krisis want die man was groot! En die ys raak min en die deur is maar smal.

Die individuele pryse wat elkeen R20 000 werd is, is toegeken aan
Ilne Fourie as Ant Vossie in Die Begrafnis (goue toekenning vir beste akteur),
Phil Janse (beste dramaturg), en
Nico Luwes (beste regisseur).

Annalize Nortier (Konyntjie) en Carel Nel (eienaar van Swanesang-Lykbesorgers) in Die Begrafnis deel die silwer- akteurstoekenning van R10 000. (Ander spelers in die wenstuk is Misha Daniëls, Christopher Mey en Anel Coetzee.)

Die beoordelaars, Jeanne Goosen, Ilse van Hemert, Elize Cawood, Hennie van Greunen en Mike van Graan, het ‘n voortreflikheidsertifikaat aan die Universiteit van Stellenbosch se Mymering toegeken.

Afgesien van Die Begrafnis, was die finaliste wat om die pryse ter waarde van altesame R270 000 meegeding het
Mymering (Produksie: Universiteit Stellenbosch; Teks: Hans Oosthuizen; Regie: Johan Esterhuizen)
Sara (Produksie: Universiteit Stellenbosch; Teks: Richard Bertelsmann; Regie: Francois Toerien)

SPAT was vir die vyfde keer op die spel. Die Vrystaters het ook in 2005 en 2007 koning gekraai, terwyl Stellenbosch die toekenning in 2004 en 2006 gewen het.

Lewer kommentaar

Leave a Reply