Mini-Fees in Roodepoort

Lefra Produksies bring ‘n minifees na die Roodepoortteater van 19 tot 21 November met produksies wat uitstekend gevaar het met die onlangse Aardklop Nasionale Kunstefees.


Kom sien Paul Lückhoff in Oom Schalk Lourens se Mampoerstories, Hannes Muller in Groet die Grotman en Ana van Achterbergh in Liewe Heksie.

Gesoute akteur en deesdae die karakter Oom Wimpie in Binneland, is Suid-Afrika se nuwe Oom Schalk Lourens, die geliefde karakter wat Herman Charles Bosman jare gelede geskep het. Oom Schalk Lourens se Mampoerstories is vroeër vanjaar tydens die jaarlikse Clover Aardklop Nasionale Kunstefees bekendgestel, en vir die eerste keer in Afrikaans.

Oom Schalk Lourens se Mampoerstories is verwerk en vertaal deur Frans Swart, wat ook die regie van die produksie hanteer. Oom Schalk Lourens se Mampoerstories speel in die Roodepoortteater op Woensdag, 20 November om 20:00.

Herman Charles Bosman se Oom Schalk Lourens het deur die jare volksbesit geword. Patrick Mynhardt het vir jare Oom Schalk Lourens op die verhoog gedoen, maar oom Schalk het nog al die jare Engels gepraat. Vir die eerste keer in die geskiedenis praat Oom Schalk Lourens egter Afrikaans. “Ek het vir jare saam met Patrick Mynhardt gewerk en Oom Schalk Lourens het my nog altyd gefasineer,” sê Frans Swart, regisseur van Oom Schalk Lourens se Mampoerstories. “Oom Schalk Lourens is ‘n bobaas storieverteller, maar ook ‘n persoon wat die Groot Marico en sy mense baie lief het. Hy is ook baie lief vir mampoer en ook vir meisies. Herman Charles Bosman het sy karakter so goed omlyn en sy stories is so goed geskryf dat mens voel of jy in die Groot Marico is. Gooi daarby die wonderlike talent van Paul Lückhoff en jy het ‘n trefferproduksie. Paul verstaan die kuns van storievertel en hy het ‘n transformasie ondergaan en het Oom Schalk Lourens geword!”

Paul Lückhoff as Oom Schalk Lourens
Paul Lückhoff as Oom Schalk Lourens
Kyk, mans sny nie die gras nie. Vrouens maak alewig skoon. Kan hy nie eerder … hoekom kan sy nie … kan hy dan nooit … moet sy aanhoudend … WAG! Voordat paartjies mekaar in die hare invlieg, moet hulle eers ‘n draai maak by Groet die Grotman! Rob Becker se wegholsukses komedie, Defending the Caveman, vir oulaas in Afrikaans as Groet die Grotman, kom maak ‘n draai by die Roodepoortteater op 19 en 21 November, elke dag om 20:00! Koos Kombuis het die stuk in Afrikaans vertaal en verwerk, Sandra Prinsloo het die regie hanteer en Hannes Muller speel die rol van die Grotman.

Groet die Grotman is ‘n humoristiese verkenning van die verskille tussen mans en vrouens, en hoe daardie verskille veroorsaak dat ons mekaar totaal misverstaan. “Grotman slaag daarin om ‘n diepgewortelde universele senuwee te raak … die verskille tussen mans en vrouens … en wat baie lekker is dat daardie senuwee op komiese wyse uitgebeeld word”, se regisseur Sandra Prinsloo. “En die sukses van Grotman kan beslis daarin toegeskryf word. ‘n Wonderlike teks deur Rob Becker en ewe wonderlik vertaal en verwerk deur Koos Kombuis en Hannes Muller se briljante vertolking as Die Grotman is beslis redes hoekom Groet die Grotman so gewild is.”

Lefra Produksies toer reeds sedert 2009 met baie suksesvolle Liewe Heksie-produksies. Twee nuwe Liewe Heksie stories het nou die lig gesien en die jongspan in Roodepoort kan nader skuif, want Liewe Heksie en haar kaboutermaats besoek die Roodepoortteater vanaf 19 tot 21 November. Die vertonings begin elke oggend om 11:00. Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels is vroeër vanjaar oorlede en het kort voor haar dood ‘n splinternuwe storie spesiaal vir Lefra Produksies geskryf. Lefra Produksies toer reeds die afgelope vyf jaar met baie suksesvolle Liewe Heksie-produksies. Regisseur Frans Swart het vir Verna oortuig om ‘n splinternuwe Liewe Heksie-storie te skryf. So is hierdie nuwe Heksie-teaterproduksie gebore – Liewe Heksie en die Tuindwergie. “Ek wou nog altyd gehad het dat Heksie ‘n tuindwergie ontmoet,” het Verna gesê “en wou sien wat Heksie met die Tuindwergie doen. En glo my, ek is seker sy gaan weer in die moeilikheid kom! Ons maatjies moet maar kom kyk wat vang Heksie met Casper, die tuindwergie aan.”

Bespreek jou kaartjies nou by Computicket vir Lefra Produksies se minifies by die Roodepoortteater.

Lewer kommentaar

Leave a Reply