Sewe jong dramaturge se verhoogstukke is die afgelope naweek tydens die 18de Suidoosterfees vir die eerste keer op die planke gebring. Die debutante wat vanjaar deel van die fees se NATi Jong Sterre-projek was, is Margo Kotze, Andrico Goosen, Fabian Rainers, Xolisa Ngubelanga, Carlo Daniels, Gerhard Visagie en Misha Krynauw. Dié ontwikkelingsinisiatief begelei jaarliks belowende skrywers om hul pennevrugte te slyp en uiteindelik as verhoogproduksies by die fees te sien.

Hierdie vlagskip-projek van die Suidoosterfees en NATi word aangebied met die ondersteuning van Kunstekaap en die Jakes Gerwel Stigting. Deelnemers ontwikkel hulle tekste met die hulp van ervare mentors, onder andere tydens ’n intensiewe slypskool van drie weke. Die slypskool vind jaarliks tydens ’n skrywersresidensie in die Gerwel-stigting se Paulet-Huis in Somerset-Oos plaas. Vir jong skrywers is die beloning groot wanneer die stukke na baie maande se harde werk op die Suidoosterfees-verhoog debuteer.

Gerhard Visagie se Mannetjie, deur Andre Samuels geregisseer, is tydens die fees as beste aanbieding aangewys. Die akteurs Stephren Saayman en Stian Bam was in die rolverdeling. Volgens Herman van der Westhuizen, voorsitter van die beoordelaarspaneel, was Saayman se vertolking van die titelkarakter “uit ’n ander wêreld”. Saayman het ’n toekenning vir spesiale vertolking in ’n aanbieding ontvang.

Mannetjie, foto: Nardus Engelbrecht
Mannetjie, foto: Nardus Engelbrecht

Peter Tromp, ook ’n beoordelaar, sê dat die debuutproduksies sy wildste verwagtinge oortref het. “In 15 jaar het ek nog nooit so baie talent en volronde produksies in ’n projek gesien nie.” Rafiek Mammon, mentor van die Jong Sterre-projek, sê dat die Covid-19-pandemie ekstra uitdagings aan betrokkenes gebring het, maar dat dit “’n voorreg was om van teks tot verhoog saam met die sewe jong sterre te kon reis.”

Prof. Brian Figaji, direksievoorsitter van die fees, is baie trots op dié ontwikkelingsprojek, veral omdat ontwikkeling sentraal tot die feesaktiwiteite staan. “Hou hierdie jong sterre dop, julle gaan nog baie van hulle sien!” sê hy. “Die projek is slegs moontlik as gevolg van die noue samewerking en sinergie van die vennote.”

Jong dramaturge wat belangstel om aan die projek deel te neem, moet die Jakes Gerwel Stigting se webwerf besoek vir volledige inligting.

Lewer kommentaar

Leave a Reply