Die baie gewilde buitelug-balletseisoen wat jaarliks deur die Kaapstadse Stadsballet in die Mayndarville-park aangebied word, begin op Sondag 24 Januarie met die trefferproduksie Night & Day. Alle dansliefhebbers kan dus hul piekniekmandjies gereed kry om skemerkelkies en versnaperinge in die boomryke park te kom geniet, gevolg deur ‘n romantiese ballet, opgevoer op die asemrowende verhoog van die Maynardville-buitelugteater.
Vanjaar se ballet, Night & Day, word op maat van Cole Porter se bekende musiek gedans en neem die gehoor op ‘n aangrypende reis deur dié beroemde liedjieskrywer se besonderse lewe en loopbaan. Die ballet is die geesteskind van choreograaf en Artistieke Direkteur van die Kaapstadse Stadsballet, Robin van Wyk, en is geïnspireer deur die bekroonde film, De-Lovely.
‘Night & Day is skouspelagtige, bruisende vermaak en absoluut perfek vir ‘n heerlike Sondagaand-uistappie na een van Kaapstad se mooiste buitelug venues. Die produksie is werklik een van die sprankelendste juwele in die Kaapstadse Stadsballet se repertoire en vind groot aanklank by alle dansliefhebbers’, sê Van Wyk.
Om dié unieke balans te vind het Van Wyk sy mede-choreograwe, Kirsten Isenberg, Mervyn Williams, Nigel Lucas en Paul Johnson uitgenooi om hul kreatiewe towerkragte in te span. Die resultaat is ‘n feestelike kombinasie van klassieke en neo-klassieke ballet, met ‘n goeie knippie jazz- en klopdans en selfs ‘n tikkie stoute Latyns-Amerikaanse passies en elegante ballroom.
Die voormalige prima ballerina Tracy Li en haar jarelange dansmaat Daniel Rajna sal tydens die openingsaand op Sondag 24 Januarie as gaskunstenaars optree, terwyl die belowende jong jazzmusikant Jessie Williams by alle opvoerings meesleurende solos op sy klarinet sal vertolk.
Met beroemde musikale treffers soos “Let’s Do It”, “I’ve got you under my skin”, “Let’s misbehave”, “Love for sale”, “In the still of the Night” en “Begin the Beguine” as die klankbaan, is Night & Day ‘n danservaring uit die boonste rakke wat nie misgeloop kan word nie.
Optredes by die Maynardville-opelugteater in Wynberg vind plaas vanaf 24 Januarie tot 21 Februarie, slegs op Sondae-aande, en begin om 20h15.
Kaartjies wissel van R130 – R150 en is beskikbaar by Computicket of Kunstekaap Bel-‘n Sitplek by 021 421 7695.
Opvoerings:
Sondag 24 Januarie @ 20h15
Sondag 31 Januarie @ 20h15
Sondag 7 Februarie @ 20h15
Sondag 14 Februarie @ 20h15
Sondag 21 Februarie @ 20h15