Roete 62 se talent word ge-‘polish’ vir die Absa KKNK

Pedro Kruger en Hennie van Greunen gaan van die 4de tot die 8ste Maart die pad vat, al langs die gewilde Roete 62. Hulle is opsoek na die agt talentvolste jongmense langs dié roete vir hul nuwe produksie #checkityt@route62.


“Daai talent kan nou sing, dans, voordrag, dromme speel of selfs stand-up komedie wees,” vertel Kruger. Hy is skoon uitasem oor die foon van opgewondenheid, maar is gedruk vir tyd want sy volgende repetisie begin oor ‘n paar minute. Kruger en Van Greunen se teatermaatskappy is verantwoordelik vir verskeie groot produksies wat by vanjaar se Absa KKNK sal debuteer. Dit sluit in Die Leo’s, wat bekende name soos Sandra Prinsloo en Tobie Cronjé op die verhoog sal hê, Droom met Elana Afrika wat volgens Kruger “die verf van mure af gaan sing”, Die monster in die Gang en #checkityt@route62, met die talent van Roete 62 op die verhoog.

Vir #checkityt@route62 beplan Kruger om verskeie oudisies by skole langs die Roete 62 te doen. Hulle begin die 4de Maart met oudisies in Worcester en eindig Vrydag die 8ste Maart met die laaste oudisies in Oudtshoorn.

Die week voor die fees sal die top agt jongmense wat tydens die oudisies gekies is, in Oudtshoorn gaan bly vir ‘n teater “boot camp”. Kruger en nog verskeie professionele kunstenaars beplan om die leerders se talent binne een week tot op professionele vlak te slyp.

Hierdie geleentheid hou ook geen koste vir die leerders in nie en word ten volle gefinansier.

#checkityt@route62 is losweg gebaseer op ‘n vorige produksie getiteld gly, wat in 2011 by die Absa KKNK aangebied is. Met gly is oudisies egter net in Kaapstad gehou en het die deelnemers aan die produksie vir drie maande saam gerepeteer voordat hulle op die feesverhoog verskyn het. “Gly was minder van ‘n slypskool en mentorskap en meer van ‘n produksie,” sê Kruger.

Pedro Kruger
Pedro Kruger
Van Greunen skryf die bindingsteks vir #checkityt@route62, en Kruger staan die regisseurskoene vol. Indien die projek suksesvol is, kan dit dalk ‘n jaarlikse projek word.

Die gehoor kan verwag om ‘n gesamentlike openings- en sluitingtoneel te sien, met al die jong nuwe talent saam op die verhoog. Vir die res gaan elke deelnemer alleen die kans kry om sy of haar staal op die verhoog te wys. Kruger sê: “Ons wil talent gaan soek, ontgin, mentor en ‘n geleentheid gee dat hulle dit vir mense kan wys.

“Eers was daar South Africa’s Got Talent, nou soek ons Roete 62 se talent.”

Oor die titel van die produksie sê Kruger: “Dit is gemik op die jonger mark. Met Twitter hash tags en al. Die titel is om in die jong mark se idioom te praat — Kom check yt die wonderlike talent wat ons langs die Roete 62 gekry het!”

#checkityt@route62 sal elke middag om 17:00 by die nuwe venue Johnny Biskit’s opgevoer word. Hierdie nuwe venue en die produksies wat hier aangebied gaan word is spesifiek gemik op die 14-24 ouderdomsgroep.

Volgende week se oudisieprogram vir #checkityt@route62 lyk soos volg:

4 Maart 2013 — Hoërskool Worcester 14:30–16:30
Hoërskool Robertson 18:00–20:00

5 Maart 2013 — Hoërskool Ashton 14:30–16:30
Hoërskool Barrydale 18:00–20:00

6 Maart 2013 — Hoërskool Ladysmith 14:00–16:00
Hoërskool Oudtshoorn 18:00–21:00

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar