Dit is nie aldag dat mens teater toe gaan om rugby te kyk nie. Veral nie as jy 24 akteurs, sangers en dansers geklee in knap rugbybroeke en kniehoogte kouse saam op een verhoog te wagte kan wees nie.
By vanjaar se Absa KKNK, bring die gewilde dramaturg Saartjie Botha, rugby na die verhoog toe. In die produksie Balbesit, gebruik Botha rugby as metafoor, om die werklike situasie van Suid-Afrika uit te beeld.
Tydens ‘n repetisie in Stellenbosch vertel Botha: “Daar is ‘n ouer karakter wat ‘n trip down memory lane het van homself as seuntjie wat rugby speel, en al sy drome.” Botha wys na die groep akteurs wat ‘n rugbybal vir mekaar skop en sê: “Dan is daar nou die klomp jongeres wat tussen 20 en 30 jaar oud is, ontnugter is, ongelukkig of gelukkig is, wat cope met armoede, wat cope met werkloosheid, wat cope met politieke onrus, wat cope met Suid-Afrika vandag. Dié stuk is ‘n State of the Nation vanuit die mense se monde.”
Balbesit het nie spesifieke karakters soos ander teaterstukke nie, maar dit is eerder ‘n opstapeling van hoofsaaklik jonger mans se kommentaar op aktuele kwessies en sosiaal-maatskaplike situasies. Rugby in al sy fasette, van die speler, die toeskouer tot in die sitkamer, word as struktuur gebruik, en tonele is geskoei op 25 formasies van die spel — losgemaal, lynstaan, skrum, rustyd en so meer.
Botha is van opinie dat die kunste baie kan leer by sport. “By die wêreldbeker-sokkertoernooi toe Siphiwe Tshabalala ‘n doel geskop het, was Suid-Afrika op sy gelukkigste.” Sy sê dat as teater iets van daardie ekstase kan vasvang, dan sal dit beter gaan met mense. Omdat rugby so ‘n kardinale deel is van die Afrikaner-psige, wou sy dit graag gebruik as platform vir die stuk.
Botha het baie kommentare direk van nuuswebwerwe gebruik as teks vir die stuk. Dit is kommentaar van hoofsaaklik die middelklas gewone mense — Wit, Swart, Bruin, Afrikaans of Engels, sê Botha. “Dit is soms ondeurdag, soms onverstaanbaar maar hulle voel hulle het iets om te sê en hulle sê dit. Dit dra nie noodwendig by tot ‘n groter gesprek of diskoers nie, maar hulle voel ten minste hulle word gehoor. In die post-demokratiese Suid-Afrika is daar ‘n groot groep mense wat voel hulle word nie gehoor nie en hulle behoeftes word nie in ag geneem nie, of hulle is onbelangrik of hulle is oorbodig. Ek het baie lank gewonder hoe mens daardie groep stemme saam in ‘n teaterstuk kan kombineer.”
Met die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010, het Botha verby ‘n groot Absa-advertensiebord gery met klomp rugbyspelers wat daarop pryk. Dit is toé dat sy besef het dat rugby as tema, ‘n fantastiese geleentheid bied om klomp mense aan die woord te stel oor sosiale kwessies, binne ‘n spesifieke struktuur.
Oor of Botha self ‘n groot rugby-aanhanger is, sê sy dat aangesien sy van die Vrystaat af is, was rugby maar altyd deel van haar sosiale lewe en is sy dus nog altyd lief vir die Cheetahs. Sy gaan egter nie uit haar pad uit om rugby te kyk nie.
Die regie en ontwerp vir Balbesit is in die behendige hande van Jaco Bouwer, met Ina Wichterich wat die choreografie hanteer en Braam du Toit wat aan die hoof staan van die algehele komposisie. Awie van Wyk is die musikale regisseur.
Onder die 24 mans wat saam op die verhoog hul rugbystaal gaan wys, is name soos Albert Pretorius, Wessel Pretorius, De Klerk Oelofse, Neels Coetzee, Andile Vellum, Piet Beyers, Mark Hoeben en Geon Nel.
Wat is die boodskap wat Botha wil oordra? “Ek wil nie hê gehore moet wegstap en hul tassies vir Perth pak nie. Die land is nie ‘n hopelose situasie nie.”
Balbesit is vanaf 30 Maart – 2 April elke aand om 20:00 in die SANW-ouditorium te sien.