Giuseppi Verdi se opera La traviata is sekerlik een van die wêreld se mees gunsteling verhoogwerke.
Sedert die opera se eerste groot sukses in 1854 kan gehore tot vandag toe nie genoeg kry van die meesterstuk nie. Vanaf 2 tot 12 Mei kan liefhebbers van Verdi daarna uitsien om die aangrypende musiek te hoor, maar hierdie keer tydens die Kaapse Stadsballet se uitmuntende produksie van Camille. Die Kaapse Filharmoniese Orkes wat die soliste en dansgeselskap gaan ondersteun sal gedirigeer word deur Allan Stephenson, wat ook die verwerking van die orkespartituur vir die ballet gedoen het.
Soortgelyk aan La traviata vertel dit die verhaal van Marguerite, ‘n courtisane, wat verlief raak op die jong Armand. Sy vader oortuig haar egter dat Armand beter af is sonder haar en veroorsaak so die tragiese einde van hul liefde. Dit is gebasseer op Alexander Dumas se beroemde roman,Die Dame met die Kamelias, wat in 1848 die eerste keer gepubliseer was.
Tot dusver is daar reeds twee kontrasterende produksies van Camille in Suid-Afrika geskep. Die eerste, deur Ashley Killar, was ‘n eenbedryf weergawe wat in 1983 vir die TRUK Balletgeselskap op die planke gebring is. Mahler se “Vyfde Simfonie” is vir hierdie vertolking gebruik. Veronica Paeper se drie bedryf ballet is in 1990 vir die KRUIK Balletgeselskap gechoreografeer, met Verdi se La traviata as haar musiekkeuse.
Die weelderige kostuum- en verhoogontwerp vir Camille is in 1990 deur die begaafde Peter Cazalet gedoen. Sy oorspronklike dekor en kostuums word vir hierdie opvoerings gebruik, met ‘n nuwe beligtingsontwerp, behartig deur Shamiel Abrahams.
Die rolverdeling sluit die prima ballerina Tracy Li in, wat na ‘n ses jaar afwesigheid van die verhoog weer haar buiging as Camille maak. Haar dansmaat op 4 en 11 Mei is die talentvolle jong Jesse Milligan, wat sy debuut sal maak as Armand. Vir die optredes op 2, 8 en 11 Mei dans die bekroonde Laura Bösenberg saam met die dinamiese Thomas Thorne, terwyl Kim Vieira en Daniel Szybkowski die rolle op 4, 10 en 12 Mei vertolk.
Besprekings vir Camille by die Kunstekaap Opera van 2-12 Mei 2013 kan gedoen word by COMPUTICKET of ARTSCAPE Dial-a-Seat by 021 421 7695. Kaartjiepryse wissel van R100 tot R280.
KONSESSIE: Friends of Cape Town City Ballet (lidmaatskapnommer moet verskaf word) – R20 afslag op alle kaartjies (alle pryse en vertonings).
Rolbesetting:
Don 02/05/13 19h30 (met KFO) – Laura Bosenberg & Thomas Thorne
Sat 04/05/13 14h00 (met KFO) – Kim Vieira & Daniel Szybkowski
Sat 04/05/13 19h30 (met KFO) – Tracy Li & Jesse Milligan
Woe 08/05/13 19h30 (met KFO) – Laura Bosenberg & Thomas Thorne
Vry 10/05/13 19h30 (met klankbaan) – Kim Vieira & Daniel Szybkowski
Sat 11/05/13 14h00 (met KFO) – Tracy Li & Jesse Milligan
Sat 11/05/13 19h30 (met KFO) – Laura Bosenberg & Thomas Thorne
Son 12/05/13 15h00 (met klankbaan) – Kim Vieira & Daniel Szybkowski