Na ‘n afwesigheid van meer as vyf maande is Lefra weer op die planke met vier produksies by Carnival City se Applause, en bied die volgende paar weke ‘n verskeidenheid skreeusnaakse komedies en keurige musiek aan. Mathys Roets skop die Lefra Applause-konserte af op Vrydag, 18 September om 19:00, met Wynand van Vollenstee in die skreeusnaakse Groet die Grotman 2 op Saterdag, 19 September om 18:30. Rocco de Villiers vermaak aanhangers met sy produksie Kortbroek, Langkouse op Sondag 11 Oktober om 15:00, en sangeres Helene Bester bring hulde aan die ikoniese Nana Mouskouri op Saterdag 17 Oktober om 19:00. Besprekings vir al die applouskonserte kan gedoen word by Computicket by 0861 915 8000, of aanlyn by www.computicket.com. Groepe van meer as 10 kry oudergewoonte ‘n lekker afslag – skakel Monica by (011) 815-3000, of stuur ‘n e-pos aan admin@lefra.com. As jy vir al vier produksies bespreek, betaal jy slegs R500,00 per persoon, ‘n besparing van R270,00. Die Lefra Applause-konserte word aangebied met die trots ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wines, Renegades Removals, Ambassador Execudrive en Savvy Holdings. Daar word streng by alle Covid-19-protokolle gehou en esoekers word daaraan herinner om hul maskers saam te bring!

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies, sê Lefra is baie opgewonde en dankbaar om terug te wees met lewendige teater. “Ons het regtig ‘n moeilike tyd deurgemaak tydens die inperking. Lewendige teater is ons lewensaar en dit is wonderlik om terug te wees met teaterproduksies van topgehalte. Ons moet steeds ons gehore tot baie lae getalle beperk. Dit beteken egter dat alle ondersteuners wat hierdie vertonings bywoon ‘n goeie en persoonlike ervaring met die kunstenaars sal hê, ‘n Luukse wat jy nie in die toekoms sal ervaar nie. Ons hoop ook dat teaterangers Lefra sal ondersteun deur ‘n seisoenkaartjie vir al vier die vertonings te bespreek. Deur dit te doen, help jy om teater in hierdie land lewendig te hou.”

Swart sê hy kan nog steeds nie verstaan waarom teaters, kerke en lokale tot 50 sitplekke beperk is nie. “Dit maak net geen sin nie! Hierdie absurde regulasie maak die teater in Suid-Afrika dood en moet so gou as moontlik herbesoek word. As ‘n mens 5000 mense toelaat om ‘n winkelsentrum binne te gaan, hoe de hel kan die regering dan net 50 mense in ‘n teater toelaat? Dit kan nooit ekonomies lewensvatbaar wees nie. Ons het talle voorleggings gelewer aan die Minister van Kuns en Kultuur sowel as aan die President. Nodeloos om te sê – tevergeefs!” Swart sê die publiek moet nou opstaan en eis dat teaters en kerke so gou as moontlik moet oopmaak. “Teatergangers en ondersteuners is baie verantwoordelike burgers. Dit is voor die hand liggend dat ons almal aan die Covid-19-reëls en -regulasies sal voldoen!”

Ons moes nege jaar wag vir Mathys Roets se nuutste album, en daarmee saam, ‘n nuwe vertoning! Mathys Roets se Reën is Lefra se eerste Applouskonsert op Vrydag, 18 September om 19:00 in Carnival City se Applause. In tipiese Mathys Roets-styl is elke liedjie in Reën met diepte en warmte gevul. Wat hierdie vertoning so spesiaal maak is die samevloei van die digkuns en musikale vernuf. Mathys deel sy digterlike versamelstukke van die afgelope paar jare op intieme wyse met die gehoor. Mathys het oor die afgelope paar jaar ’n variasie van gedigte en musiek versamel. Hy voel nou, na nege jaar, dat die tyd ryp is om dit te deel. Hy is heeltemal bewus van die gevoel wat hy wil skep en en met hierdie vertoning kry hy dit perfek reg. Elke liedjie vul jou met nostalgie en laat jou terugdink aan spesiale oomblike uit ’n ander lewe. Dis asof liriek en melodie saamspan om jou te laat ontvlug na alles waarvan jy reeds vergeet het!

As jy egter smag na komedie, is Groet die Grotman 2 net die regte ding vir jou! Dit is twintig jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle? Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte. Die verskille tussen Mans en Vrouens is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vrouens van Venus. Die skreeusnakse Wynand (Karate Kallie) van Vollenstee is te sien in die rol van Grotman 2, en Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie. Groet die Grotman 2 is Lefra se Applouskonsertkonsert op Saterdag, 19 September om 18:30. In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vrouens op komiese wyse uitgebeeld. Vrouens is steeds die gaarders (veral van nuttelose inligting!) en mans steeds die jagters (van ‘n bok tot ‘n televisieprogram). “Mans en vrouens lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak” sê skrywer en regisseur Frans Swart. “Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ‘n komiese wyse. Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies.” Die oorspronklike Groet die Grotman hou steeds die rekord vir die Afrikaanse teaterproduksie wat die meeste vertonings oor die langste tydperk gehad het … meer as 1 000 vertonings oor 10 jaar! Lefra het die Grotman nou vir die afgelope agt jaar laat rus in sy grot … tjoepstil! “Maar toe vanjaar spring daar ‘n nuwe Grotman uit wat sê: Hier is ek weer. Ek is uit my grot uit en het baie nuwe stories om te vertel”, vertel Frans. “Dis 20 jaar later! Grotman en Elize is wyser … of is hulle? Het Grotman sy wêreld al verbreed om by Elize se wêreld aan te sluit? Het Elize haar wêreld vernou om so bietjie na Grotman se gefokusde wêreld te kom? Ek gaan nie veel uitlap nie … gehore moet self kom kyk en lekker vir mekaar kom lag!”

Die pianis en vermaaklikheidster Rocco de Villiers het die afgelope 22 jaar 13 instrumentale CD’s, 3 “Best Off” -versamelalbums van sy werk vrygestel, 2 koffietafelboeke, ‘n DVD en 35 instrumentale verhoogproduksies geskryf en vervaardig. Sy mees onlangse albumvrystelling is Kortbroek, Langkouse, en dit is Lefra se derde Applause-konsert op Sondag 11 Oktober om 15:00. In sy unieke styl wys Rocco de Villiers hoeveel pret jy kan hê met klaviermusiek en ‘n paar skreeusnaakse stories tussenin. Kortbroek, Langkouse is vermaak vir almal, want Rocco speel alles – Music Box Dancer, Chariots of Fire, Ballad for Adeline en Amazing Grace om ‘n paar te noem. Jou voete en hande sal jeuk. Moet dit nie misloop nie!

Helene Bester sing Nana Mouskouri is Lefra se Applouskonsert op Saterdag, 17 Oktober om 19:00. Bester se produksie is verlede jaar onder groot toejuiging tydens die Oppiwater Kunstefees bekendgestel. Die teks en regie word hanteer deur Frans Swart van Lefra Produksies en musiekregie is te danke aan Heinrich Pelser – ook Helene se begeleier, tydens die Mouskouri-vertonings. “Ek het nog altyd daarop gehoop om ‘n Nana-vertoning te doen. Ek is so mal oor haar stem en ek en my sussie het met haar musiek groot geword” vertel Helenè. “Ons het eintlik gedink dat sy ‘n vriendin is van my ma. My ma en sy lyk so eenders. Tog dink ek dat die tyd nou eers ryp is vir my om die vertoning te doen. Ek glo nie dat ek hierdie musiek so goed sou kon interpreteer tien jaar gelede nie. My stem is ook ouer en klink dalk meer volwasse, wat ek glo meer by haar teikengehoor aanklank vind.” Helene sê sy het Nana se musiekvideos bestudeer. “Ek het gekyk hoe sy op die verhoog beweeg, wat sy met haar hande doen en hoe sy ‘n gehoor aanspreek. Mens wil dit tog so geloofwaardig as moontlik maak.” Regisseur Frans Swart stem saam: “Toe Helenè my oor hierdie projek nader,was ek dadelik opgewonde. Wie dan nou beter as die talentvolle Helenè om hulde te bring aan die tydlose en elegante Nana Mouskouri?”

Die volgende Covid-19 protokols is in plek wanneer jy Carnival City besoek:

Gesondheidsvraelyste word deur elke persoon by alle ingange voltooi en jou temperatuur sal gemeet word;
Elke gas moet sy of haar identiteitsdokument of MVG-kaart by die ingang toon;
Elke gas moet ‘n masker dra en sy of haar hande ontsmet by die ingange;
Binne die venue sal sosiale distansiëring gehandhaaf word;
Alle drankies sal geseël wees as dit bedien word;
Alle kos sal bedek wees as dit bedien word.

WEN KAARTJIES NA AL VIER LEFRA SE APPLOUSKONSERTE BY CARNIVAL CITY!
Een leser kan ‘n dubbelkaartjie wen na al vier Lefra se Applouskonserte. Mathys Roets skop die Lefra Applouskonserte af op Vrydag, 18 September om 19:00, met Wynand van Vollenstee in die skreeusnaakse Groet die Grotman 2 op Saterdag, 19 September om 18:30. Rocco de Villiers vermaak aanhangers met sy produksie Kortbroek, Langkouse op Sondag 11 Oktober om 15:00, en sangeres Helene Bester bring hulde aan die ikoniese Nana Mouskouri op Saterdag 17 Oktober om 19:00. Om deel te neem aan Roekeloos en Lefra se kompetisie, kan jy die volgende na 43366 SMS: WEN APPLOUS ROEKELOOS, dan JOU NAAM EN VAN en dan JOU STAD OF DORP. Dieselfde inligting kan ook per epos gestuur word aan wen@lefra.com met LEFRA & ROEKELOOS APPLOUS KOMPETISIE as onderwerp. Wenners sal telefonies gekontak word en die beslissing van die Redakteur is finaal.

Rocco de Villiers

Lewer kommentaar

Leave a Reply