Die Oppiwater Kunstefees vaar vanjaar vanaf 15-20 April 2018 op die MSC Sinfonia vanaf Durban na Mosambiek. Feesgangers kan gaan garnale eet by die legendariese Polermo Hotel in Maputo, heerlik ontspan op die Portugese eilande end an ook die nuwe bestemming, Pomene, besoek, wat baie moeilik per land bereikbaar is. Die hoofdis is egter ’n kunstefees aanboord die MSC Sinfonia met meer as 20 top Afrikaanse produksies. Die program vir Oppiwater is onlangs bekend gemaak.

Fooie sluit natuurlik verblyf en alle etes op die kunsskippie in. Dit sluit ook ’n vermaakfooi in wat feesgangers sal toelaat om hulle produksies teen baie lae gesubsidieerde kaartjiepryse te bespreek wat wissel van R10 tot R90 per kaartjie. Feesgangers word aanbeveel om reeds nou kaartjies in Suid-Afrika by enige tak van Computicket te bespreek. Kaartjies sal wel aanboord die MSC Sinfonia beskikbaar wees, maar dan sal Feesgangers in dollars moet betaal.

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies en organiseerders van die Oppiwater Kunstefees sê hy is baie opgewonde oor vanjaar se program. “Dit bly natuurlik elke jaar ’n uitdaging om te besluit watter wonderlike produksies saamgaan op ons kunsskippie. Dit is egter altyd vir ons belangrik om ’n baie groot verskeidenheid van alle teatergenres vir ons feesgangers aan te bied. Daar is drama, komedie, poësie, dans, woordkuns, musiek en sang. Ons besef maar te goed dat Oppiwater eerstens ’n vakansie-ervaring vir ons passassiers moet wees – daarom is daar ook heerlike dekpartytjies waar ons baie lekker gaan partytjie.” Swart sê dat die uitdaging daarin lê om meer as 20 verskillende Afrikaanse produksies in hierdie week in te pas. “Dit is nogal ’n groot uitdaging vir my span om soveel produksies in en uit te trek in beperkte tyd en veral ook beperkte spasie. Maar ons doen dit nou reeds vir vyf jaar – so ons het reeds die kuns bemeester om vir ons mense ‘n ongelooflike kunstefees aan te bied.” Hy sê ook dat Oppiwater baie trots is om vir ’n Fiesta-toekenning genomineer te wees as een van die vier beste Kunstefeeste in die land.

Coenie de Villiers se Tien vingers is sekerlik een van die groot gunstelinge vir die Oppiwater Kunstefees. Daar is egter ook die klug, My man se skelmpie se skelmpie se vrou, die Boerneef-huldeblyk, Flennie die snare met Chris Chameleon, Anna Davel, Johny Klein, Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg, Randall Wicomb en Hans du Plessis se Griekwapsalms herleef in Voete van ’n gemsbok, Lizz Meiring is te sien in Met ander woorde en vele meer.

RSG Omroepers Johan Rademan, Sue Pyler, Ettienne Ludic en Fritz Klaaste is jou gashere en gasvrou.

Die volledige Feesprogram is as volg:

BOO! Met Chris Chameleon en Riaan van Rensburg
Coenie de Villiers in TIEN VINGERS
DIE STORIE VAN AFRIKAANSE MUSIEK met Pieter Smith
DIE WYN, DIE VROU, DIE LIED met Johan Rademan, Christo Snyman en Neil Retief van Van Loveren Wyne. Hierdie produksie sluit ook ‘n volle wynproe deur Van Loveren Wyne in
DINAMIET KOM IN KLEIN PAKKIES met Sue Pyler
FLENNIE DIE SNARE met Chris Chameleon, Anna Davel, Johny Klein, Daniella Deysel, Jaconell Mouton (Musikale Regisseur), Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg
GEWILDE ARIAS UIT DIE MUSIEKBLYSPELE met Rouel Beukes
GOUE OUES met Alwyn Oberholster
KAPPITYT LANGARM DEKPARTYTJIE met RSG se Fritz Klaaste en ‘n boeremusiekorkes
KARAOKE met Ettienne Ludick in die Disco
KAT EN WOLF met Chris Chameleon en Daniella Deysel
MET ANDER WOORDE met Lizz Meiring
MUSIC LANDSCAPES met Jaconell Mouton en Mauritz Lotz
MUSIEKNOOT OPPIBOOT met Lizz Meiring
MY MAN SE SKELMPIE SE SKELMPIE SE VROU – heerlike Lefra-klug met regisseur Frans Swart
MY TYD met Chanie Jonker – klassieke klavieruitvoering
NOSTALGIE met Christo Snyman
ONTBLOOT met Edrien Erasmus
‘N GEWIGTIGE SAAK met Wynand (Karate Kallie) van Vollenstee
RSG Radiodrama met Johan Rademan as regisseur
MAAR? met Ettienne Ludick
RIAAN VAN RENSBURG LIVE!
SWINGING SAFARI met Anna Davel
VOETE VAN ‘N GEMSBOK – Griekwapsalms
WEGVAARTPARTYTJIE op die Dek
ONTMOET DIE KUNSTENAARS – elke middag om 17:00 in die Pasha Club
REGSTREEKSE RSG UITSENDINGS – daagliks van die dek met Alwyn Oberholster ons musiekmaker op die dek

Besprekings vir die Oppiwater Kunstefees kan gedoen word by MSC Cruises by 0860 11 44 11 of aanlyn by www.oppiwater.co.za Vir meer inligting skakel Lefra Produksies by (011) 815 3000 of epos aan info@lefra.com

Lizz Meiring
Lizz Meiring

Lewer kommentaar

Leave a Reply