He’s Just Not That Into You

Die oorspronklike boek het ‘n paar jaar gelede verskyn, was pure pulp, ‘n goeie verskoning om op Oprah te verskyn en het natuurlik miljoene kopieë verkoop. Ten spyte van die kawaliteit stel die boek, en nou ook die fliek, ‘n goeie punt: vrouens verstaan nie mans se manier van kommunikeer nie.

He’s Just Not That Into You deel met ons die verhale van ‘n handvol jongmense. Neil (Ben Affleck) woon al vir jare saam Beth (Jennifer Aniston), tog kom hulle nie tot trou nie. Ben is al lank getroud met sy eerste groot liefde Janine (Jennifer Connelly), maar het nooit rekening gehou met vrouens soos die warmbloedige Anna (Scarlett Johansson) nie. Gigi, wat permanent verlief is op iemand anders, leer haar lewenslesse van kroegeienaar Alex (Justin Long). Laastens is daar Mary (Drew Barrymore) wat val vir die langhaar kitaarspeler op MySpace.

Elke vrou dink sy is die uitsondering op die reël. Haar man is nie so nie. Maar soos Alex reguit sê: “Jy is nie die uitsondering nie, jy is die reël.” Of nie.

Hierdie romantiese komedie was verrassend goed. Daar is baie swak plekke, maar die sentrale tema staan sterk en sal jou beter laat voel op ‘n mistroostige dag.

Swak punte is die aanvanklike swak samehang tussen die onderskeie verhale. Dit trek eers lekker saam teen die einde van die film. Daar is ook ‘n halfhartige poging deur die regisseur om ‘n dokumentêre gevoel te gee, maar hy moes maar laat los het.

He's just not that into youDie akteurs lyk lekker op hulle gemak en dit help jou om die spulletjie ernstig op te neem. Die relatief onbekende Ginnifer Goodwin as Gigi steel die kalklig by die meer bekende name. Oplettende fliekgangers sal haar dalk onthou uit Walk the Line (2005) as Vivian Cash. Mens hoop van harte sy kry beter rolle in die toekoms.

Hierdie is ‘n ideale DVD vir ‘n koue Vrydagaand. Spaar jou fliekgeld en koop sjokolade en wyn vir die DVD-aand.

Die duim wys na bo vir He’s Just Not That Into You, ‘n genotvolle romantiese komedie.

Met: Ben Affleck, Jennifer Aniston, Drew Barrymore, Jennifer Connelly, Ginnifer Goodwin, Scarlett Johansson, Kris Kristofferson en Justin Long

Regisseur: Ken Kwapis

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Lewer kommentaar

Leave a Reply