Na baie jare van musiek maak en musiekfeeste van die vroegste tye af, maak Jannie du Toit vanjaar ‘n draai by ses van die grootste kunstefeeste in Suid-Afrika – onder andere ook by die National Arts Festival in Grahamstad waar hy in die vroeë negentigerjare vir die eerste keer by ‘n kunstefees opgetree het. Die program by daardie fees, voor daar nog enige groot Afrikaanse kunstefeeste was, was Skadu’s teen die Muur, ‘n program oor die musiek van Koos du Plessis, wat hy saam met Christa Steyn en Marié du Toit aangebied het. Stephan Bouwer was hulle regisseur vir die program wat destyds op SATV uitgesaai is en ook in 1993 ‘n Europese toer onderneem het. Du Toit het as lid van die sewentiger-folkgroep, Trilogie, op die toneel verskyn en het deur die jare danksy ‘n vyftigtal volwaardige professionele verhoogproduksies plaaslik en internasionaal ontwikkel in ‘n liedjieskrywer, sanger, kitaarspeler en verhoogkunstenaar van die hoogste orde. Benewens talle ander vererings sedert die tagtigerjare het hy in 2008 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning ontvang vir sy lewenslange bydrae en hy word allerweë beskou as ‘n legende in Afrikaanse musiek.

Op die programskedules van vanjaar se feeste verskyn ‘n verskeidenheid van Jannie se produksies. By die Woordfees was dit Die eggo van jou oë saam met die tjellis Susan Mouton en by die KKNK in Oudtshoorn Kiekies – Lucas se liedjies saam met Thean Kotze van Ses Snare-faam. Nou is daar groot opgewondenheid oor Jannie se optrede saam met Anton Goosen en Coenie de Villiers einde Junie by Innibos, ter herdenking van ‘n uitsonderlike moment in die Afrikaanse kultuurgeskiedenis waarin hulle al drie gedeel het: die titel van hierdie aanbieding is Musiek en Liriek – 40 jaar later. Dié sogenaamde Musiek en Liriek-Beweging het ‘n onuitwisbare invloed op Afrikaanse musiek gehad en was bepalend in al drie dié kunstenaars se solo-loopbane. Die jong ster Steffie le Roux tree saam met hulle op om saam met hulle te vertel van Musiek en Liriek se baanbrekerswerk, sy ryk nalatenskap en haar eie werk wat in die voetspore daarvan volg. Die opwindende nuus is dat Andy Lubbe, die grootbaas van Innibos, ook sy verskyning op die verhoog gaan maak. Andy was saam met Jannie lid van Trilogie en saam met nog ‘n lid van dié groep, Francois (Morg) Jacobs, gaan hulle die gehoor laat hoor waarom hulle in 1976 finaliste in die ATKV se Crescendo-kompetisie was, maar ook in daardie jaar die enigste Suid-Afrikaanse inskrywing was wat ‘n honorary mention prize in die American Song Festival verower het. Gedurende Innibos tree Jannie ook op die KMI Airport Kunsteverhoog op saam met Susan, eerste tjellis van die Johannesburgse Filharmoniese orkes.

Na Innibos is dit reguit na die Vrystaat Kunstefees vir vertonings van sy nuwe produksie getitel Oesjaar, met musiek van Jannie se jongste solo-album volledig uit sy eie pen. Susan Mouton sal weer saam met hom op die verhoog wees, maar ook Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en Theuns Botha (tromme). Kenners beskryf die liedjies – wat hy verlede jaar geskryf het – as Jannie se beste skeppende werk in sy loopbaan van byna vyf dekades. Dit sal die eerste keer wees dat Oesjaar by ‘n kunstefees te siene sal wees. Weereens direk daarna beweeg Jannie, Susan en Chanie verder aan na Grahamstad waar hulle Bonjour Monsieur Brel in die Beethovensaal – een van die top klassieke sale by dié fees – aanbied. Jannie se Brel-opnames is die afgelope paar jaar gereeld op Classic FM te hore, en die program bevat liedjies in Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands. Dan bly die Oesjaar-produksie by Aardklop in September nog oor, maar op 14 Julie vanjaar is daar ‘n unieke hoogtepunt – Jannie se eie Kunstefees in die Kleine by die Atterburyteater in Pretoria. Video-opnames van drie volledige produksies wat nog nie vantevore op TV te sien was nie, word op daardie dag tydens die konserte voor gehore opgeneem – Oesjaar om 12h00, Bonjour Monsieur Brel om 15h00 en Kiekies – Lucas se liedjies om 15h00. In totaal kan nagenoeg sestig liedjies uit die boonste rakke op een dag gehoor word. Daarby is die heerlike eetplekke van Lynwood Bridge-sentrum beskikbaar, met ‘n spesiale aanbod van die uiters gewilde Stephnie’s: elkeen wat twee of meer van die vertonings bywoon kwalifiseer vir een van 50 afslagbewyse vir daardie dag. Dit behels 15% op hulle gewone spyskaart. Besprekings vir etes moet ook vooraf gedoen word by 012 348 8943 of bookings@stephnies.co.za

Lewer kommentaar

Leave a Reply