Melkstraat

deur Elmarie Potgieter

(Met ‘n traan in die oog terwyl sy na Al lê die berge nog so blou luister.)

Hier in die land van die Arabiere lees ek met vreugde maar ook met ‘n hart vol verlange dat Jan Blohm so ‘n opgang maak in die Afrikaanse musiekwêreld. Om die waarheid te sê, miskien is dit meer die herinneringe aan Melkstraat wat my bande wat ek so styf om my hart draai, so ‘n bietjie laat losglip het. Soos wanneer jy jou skoenveters met ‘n dubbelknoop vasbind, maar die dekselse goed hou aan met loswikkel. En dan eendag, onverwags, wanneer jy vinnig by jou kar moet kom, struikel jy en val hard neer. Dis daardie gevoel.

Melkstraat is opgeneem in my motorhuis. Ja, ek het baie aanskou. Hoe die garagedeur uitgehaal is, die matte op die vloer geplak is en die studio ingeruim is. Laat in die aand het die bure soms gekerm oor die onaardse geraas wat die spul jongmense daar maak. Eenmaal selfs by die manne in blou gekla. My broer, Eckard Potgieter, het die jong Afrikaners deurgaans in hul visie ondersteun (sy rekenaars, toerusting, huurgeld, ondersteuning ens. het hulle treetjie in musiek moontlik gemaak.)

Maar laat ek nog ‘n paar herinneringe deel. En miskien het dit te doen met Toast Coetzer se blykbare bewondering van die drankasem van Jan Blohm. Blykbaar is dit ‘n absolute noodsaaklikheid, want as die rooiwyn vloei in jou are, dan word die muse blykbaar losgelaat vanuit haar konserwatiewe Afrikaner tronk. Dit is dan wanneer die Afrikaner sy bande kan losbreek, en die onderdrukte psige die kans kan kry sonder die skuldgevoelens van die verlede, sy pyn in vloekwoorde op die esel te skilder.

Ja. goeie ou Bacchus Nel. Met sy getroue hond. Interessante naam, nie waar nie. Die titel :Rooiwyn en Mary Jane, is opgedra aan die pynverligters, die liberator van jong mans wat nie vir hulself ‘n ander toekoms in Suid-Afrika sien nie. Hoe jonger, hoe dronker, nie waar nie. Maar nou ja, veels geluk aan die nuwe Afrikaners (wat so graag na die icons Koos en Kerkorrel verwys asof hulle persoonlike vriende was). Ek wonder oor die toekoms. Verder is ek spyt dat ek nie aandeel in SAB het nie. Miskien moet ek ‘n klein wynplasie daar iewers aan die oewers van die Oranjerivier koop, en dan weer my motorhuis beskikbaar maak. Dink aan die volgende titels van albums: “Oranjerivier blues” “Daar is wyn op my brein”.

Wel, miskien sal die nuwe eienaars van Melkstraat 306, met nuwe respek kyk na die merke in die houtdeure (waar die manne bietjie rof geraak het na ‘n aand se hewige kreatiwiteit). Of miskien sal hulle die matte aan die Afrikaanse musiekargief skenk met labels rondom die kotskolle (“HIER WAS JAN BLOHM NAAR”) of (“HIER HET BACCHUS SY HOEVEELSTE GLAS TASSIES OP DIE VLOER OMGESTAMP”) Net soos die blou deur van die bekende Julia Roberts fliek, kan hulle selfs die gebreekte deure verkoop. Dink net: ” In ‘n geveg het die bekende … sy vriend … deur die deur gegooi). Ons Afrikaanse kinders sal met groot bewondering deur die galery loop, nie waar nie. Miskien is Koos se karwrak ook daar …

Lank leef die nuwe Afrikaanse musiekgenerasie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply