‘n Plek in Afrika

Die produksie, ‘n Plek in Afrika, is ‘n mylpaal in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse musiek en word opgedra aan Nelson Mandela. Ons beste kunstenaars voer ons mooiste musiek op in die bekendste konsertsaal in die wêreld, die Royal Albert Hall. Die tema van die produksie is Afrika. Afrika – en spesifiek Suid-Afrika – is die geboorteplek van die mensdom. Ons is almal kinders van Afrika. Ons moet elkeen ons oerwortels in Afrika herontdek.

Die produksie is gedeeltelik geinspireer deur ‘n lied van Francois le Roux, getiteld “Her Time Has Come”. ‘Her’ verwys na Afrika. Hierdie lied – wat ook die klimaks van die produksie sal vorm – inspireer ‘n nuwe geslag om hande te neem met Afrika as die moederkontinent, die geboorteplek van die mensdom. Die lied kry gehore op hul voete in SA asook in Europa, die VSA en die VK waar dit die afgelope jaar opgevoer is. Elemente van die lied sal deur die produksie geweef word as ‘n samebindende tema. Dit is ‘n ware klimaksstuk wat die Royal Albert Hall waardig is.

Die regisseur Francois le Roux is in 1966 gebore en improviseer reeds vanaf vierjarige ouderdom op die klavier. Hy het formele opleiding in tjello en klavier en tree sedert sy tiende jaar op as kerkorrelis. Hy het reeds in verskeie orkeste en ensembles gespeel en tree op as solis (klavier en tjello), onder andere met die destydse SAUK orkes. Sy komposisies sluit in ‘n werk vir klavier en orkes.

Hy het saam met die Johan Strauss-strykensemble na Europa getoer en sy verwerking van “Sarie Marais” word in Oostenryk uitgevoer. Hy het sy BA graad in teologie en filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en gedurende hierdie tyd word ‘n multi-dissiplinêre oratorium gebaseer op Johannes 1, waarvan hy komponis en dirigent is, in die Stellenbosch Studentekerk uitgevoer.

Francois het klankbane geskep vir Die Prins van Pretoria (Franz Marx), toneelwerke soos Makana (Andrew Buckland), Lake (Reza de Wet) en dokumentêre getiteld People of the Gariep (SABC 3). Hy is tweemaal aangestel as musikale direkteur van die nasionale Woman of the Year gala-geleentheid en speel ook tjello en toneel in die bekroonde toneelstuk Die Goue Seun oor die lewe en werk van Uys Krige met regie deur Marthinus Basson. In 2003 het Francois ‘n toer met optredes in Europa, Engeland en Dubai onderneem.

Die kunstenaars vir ‘n Plek in Afrika is Laurika Rauch, Dozi, Steve Hofmeyr, Nianell (wat groot suksesse in Amerika behaal het met Who Painted the Moon?), Heinz Winckler (wat in 2003 4de geëindig het in World Idols), DNA Strings (‘n musikale sensasie wat met Afro-Spaanse-Ierse ritmes ‘n storm losspeel), Lucas Maree, Zanta Hofmeyr (bekende violiste), Francois le Roux, John Jacobs (Franse Mimiekmeester, gebore in Distrik Ses), George Mannekoor (top-koor met liedere soos Shosholoza, Wimoweh en Manguane Mpulele), Maleierkoor (oftewel Kaapse Klopse met hul kleurvolle uitrustings en vrolike liedjies), Fishpond (bekende Britse pubkoor van 85 uit die Midlands wat Afrikaans, Zoeloe en Xhosa sing), AngloGold-koor (gewilde swart mannekoor en gereelde besoekers aan Ukkasie) is van die ander kunstenaars.

Lewer kommentaar

Leave a Reply