Patricia Lewis

Op 12 September open die nuutste, grootste, luuksste en bes toegeruste Springbok Bar in die VK amptelik. Selfs voor sy opening maak hy soveel opslae dat Boy George, een van die bekendste plaaslike DJ’s, sy dienste aangebied het op Vrydae-aande. Die Bar kan meer as 1 000 mense akkommodeer, het 40 verskillende TV’s en ‘n verhoog.

Springbok TV word ook by die geleentheid gelanseer.

Gaskunstenaars vir die aand is Patricia Lewis en Karen Zoid. Hier is ‘n paar feite omtrent Patricia se loopbaan:
Sy het 5 jaar in ‘n ry provinsiale kleure in gimnastiek verwerf en het ‘n goue medalje gewen tydens die jaarlikse Nasionale Gimnastiekkampioenskappe.

Haar tweede album Ek Is Lief Vir Jou is in 1997 uitgereik en dit was ‘n reusetreffer waarvan daar binne ‘n jaar meer as 125 000 eksemplare verkoop is, wat daaraan ‘n dubbele platinum – status besorg het. Hierdie album was ook die beste verkoper van ‘n Engels / Afrikaanse solo-album deur ‘n vroulike kunstenaar in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse musiekwese. Die album het die derde posisie bereik op die amptelike SA Top 20 van albumverkope, met slegs Celine Dion en Titanic wat op daardie tydstip meer verkope gehad het. Patricia se album het op die Top 20 gebly vir 37 weke. Wat die prestasie nog merkwaardiger maak, is dat Patricia die eerste vroulike Suid-Afrikaanse kunstenaar in nege jaar was wat die Top 20 kon haal.

In totaal is daar ‘n verstommende 450 000 eksemplare van al vyf haar albums verkoop in minder as vier jaar. Sy is die enigste kunstenaar wat vyf platinum-albums na mekaar kon behaal. Dit maak van haar die vinnigste en grootste vroue verkoper in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse musiek.

Patricia se nuutste projek is ‘n pop van haar eie beeld, wat reeds beskikbaar is. Dis die eerste keer dat ‘n kunstenaar in Suid-Afrika haar eie pop het.

Patricia is tans aanbieder van die puik program Bang Jan Dooie Jan wat Dinsdae aande om 6 uur op SABC 2 uitgesaai word. Dit is waar bekende persoonlikhede uitgedaag word om waaghalsige aktiwiteite saam met haar te doen.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar