Die derde reeks van Republiek van Zoid Afrika het in Januarie 2016 afgeskop en met duisende kykers en `n groeiende RZA parlement, is dit tans een van menige kykNET televisiekykers se weeklikse “moet-kyk” afsprake. Karen Zoid se aangrypende vrae en sin vir humor sorg vir spontane, innemende kuiersessies met haar bekende studio gaste.
Elke episode eindig met ‘n optrede deur Karen, saam met haar musikale gas van daardie spesifieke episode en kykers kan die liedjies direk na die vertoning af te laai vanaf iTunes. Dit huidige reeks het reeds 5 nommer 1 posisies op SA iTunes behaal. Dit volg op tien nommer een posisies vir RZA Volume 2. Die CD het reeds goue status in verkope bereik en Vol 2, wat in September 2015 uitgereik is, is steeds op die SA 1Tunes Top 10 Album trefferlys.
Gaste saam met wie Zoid sovêr in die derde reeks opgetree het sluit onder andere Juanita du Plessis, Claire Johnston, Vicky Sampson, Snotkop en Jan Blohm in.
In die laaste paar weke van die huidige reeks kuier nog groot, musikale legendes in die Republiek. Kykers kan uitsien na nuwe hoendervleis-weergawes van ouer, bekende liedjies, onder andere Koos Kombuis – “Onder in my whiskyglas”, Carike Keuzenkamp – “Byeboerwa” en Mynie Grove – “Sweef soos `n Arend”. Die reeks eindig op Donderdag 7 April, maar Kyknet het reeds aanduiding gegee dat die volgende reeks in Julie 2016 op die lug sal wees.
Zoid en al hierdie besonderse kunstenaars se moeite met die verwerkings en uitvoerings van hierdie tydlose treffers, sal sorg dat Republiek van Zoid Afrika Vol 3, soos die vorige twee albums en DVD`s, jou hartsnare roer. Dit is ook lekker om die Cd`s en DVD’s vir jou persoonlike musiek- argief aan te skaf.
Republiek van Zoid Afrika is benoem vir `n SAFTA 2016 (Suid Afrikaanse Film en Televisie Toekenning) in die kategorie: Beste Geselsprogram. Zoid sê” “Ek is baie bly hieroor. Die SAFTA nominasie het dit laat insink dat ons program populêr is. Toe ons die eerste reeks gemaak het het ons dinge gedoen soos ons dit wou doen en gedink dat dit moontlik nie verder sal gaan nie. Maar hier is ons nou al in reeks drie en dit is vir my `n wonderlike ding dat daar hierdie sinergie tussen wat ons doen en die publiek is. Dit is nogal raar om so iets te beleef in n mens se loopbaan, omdat daar gewoonlik baie kompromieë gemaak moet word. Ek voel baie geseënd om dit te kan ervaar.”
Musiekliefhebbers en gesinne wat Donderdagaande saam voor die kassie sit kan nou ook die Republiek van Zoid Afrika in lewende lywe beleef by die KKNK. Kaartjies is beperk, bespreek nou by Computicket.
Republiek van Zoid Afrika KKNK Afskop Konsert: Oudtshoorn Sportgronde: Vrydag 25 Maart: Saam met Karen Zoid, Anneli van Rooyen, Francois van Coke, Kahn Morbee, Koos Kombuis, Corlea Botha, Jannie Moolman.
Twitter: @karenzoid
Facebook: https://www.facebook.com/pages/Karen-Zoid/10388591164?fref=ts
Hi, waar en hoe sou mens die episodes van republiek van zoid afrika kon koop? Nie die musiek dvd nie. Ek wil die shows kyk. Het nie tv nie en toevallig by my pa gesien onlangs. Sou graag alles wou sien.
Groete
Doen navraag by kykNet. Dalk het hulle ‘n soortgelyke afdeling soos die SABC wat sekere TV-programme verkoop.