Pretorianers, Tshwanese en Gautêngers word bederf met ‘n unieke gebeurtenis – ‘n week van ‘n reuse verskeidenheid vermaak. Hierdie teater ekstravaganza word deur kunstenaars moontlik gemaak vir hulpbehoewende kunstenaars.
Nog nooit vantevore kon gehore vyf top trefferproduksies in een week op hul voorstoep ervaar nie. Nog nooit vantevore kon gehore hul gunsteling sterre van teater, TV, rolprente, die musiekwêreld en visuele kunste van aangesig tot aangesig ontmoet en saam met hul poseer vir foto’s of ‘n glasie wyn saam drink nie.
Die keuse van vermaak is noukeurig saamgestel om elke smaak en generasie te bevredig.
Vanaf 29 Mei tot 2 Junie vanjaar, klop die hart van die kreatiewe kunste in die Jakarandastad, soos nog nooit vantevore nie. En die magiese week propvol die beste betowering geskied als onder een trotse Tshwane dak.
Die venue is die bekende, majestueuse, pas gerestoureerde luukse Aula teater, op die hoofkampus van die Universiteit Pretoria in Lynwoodweg.
Hier span die room van professionele Suid-Afrikaanse teaterlegendes en die uitstaande jong bedryfsmense saam ten bate van hul ikoniese kollegas wat weens omstandighede soos gevorderde ouderdom en ernstige siekte, nie meer professioneel kan werk nie en dus hulpbehoewend geword het.
Die TBF (Teater Bystand Fonds- ‘n geregistreerde NPO vir behoeftiges in die kunste) bied ‘n week van uitsoek vermaak – van landwye toptreffer toneelproduksies tot lokettreffer komedie, staande ovasie musiekervarings sowel as ‘n asemrowende damesdag couturier mode en musiekvertoning.
Die pas afgetrede veteraan Voorportaal hoof van die Staatsteater, die formidabele Kobus Lodewyksz, is ingespan om die Aula foyer se feestelikhede met sy ysterhand te kom beheer.
Kaartjieverkope en ander produkte se verkope is ten bate van die Teater Bystand Fonds en besprekings kan gedoen word by www.strictlytickets.com / telefoniese besprekings : 0825535901/3.
Alle kunstenaars, vervaardigers en kreatiewes wat optree, die wat as gashere en gasvroue gehore verwelkom, plekke aanwys of ander hulp bied, skenk hul dienste gratis ten bate van die Teater Bystand Fonds.
Volksbesit soos Sandra Prinsloo, Tobie Cronje, Ben Kruger, Lizz Meiring, Gert van Niekerk, Jak de Priester, Leon Gropp, Corneille Hutton Burger, Melt Sieberhagen, Hannes Brummer, gerekende violis Lizelle le Roux, asook die bekende tjellis Susan Mouton, pianis en komponis Dawid Boverhoff, visuele kunstenaar Michele Nigrini en vele meer tree op tydens die TBF Teater Ekstravanga week.
Ander volkslieflinge wat optree sluit in: Veteraan Louis van Niekerk, internasionale rolprent en teater ster Deon Lotz, die multi bekroonde akteurs – Vinette Ebrahaim, Christo Davids, Theodore Jantjies, Maurice Page, Hannes van Wyk.
Die bekende kleder van die beroemdes – Pretoria mode ontwerper Thomas Thomson, span saam met die klassieke couturier Peter Soldatos en jong opkomende talent vir ‘n mode ervaring met ‘n verskil.
Groot name uit die professionele kunstegemeenskap- bekende akteurs, sangers en vermaaklikheidsterre van sepiesterre van Villa Rosa, Isidingo, Binnelanders en Sewendelaan tot rolprentsterre , teaterlegendes, visuele kunstenaars en gewilde bekendes kom diens doen as plekaanwysers, wynskinkers en gashere. DIE KYKNET KUNSTE en glansprogram BRAVO! kom verfilm die gebeurtenisse.
Danksy die samewerking van UP kunste en Tuks Alumni verhoudinge, word die luukse foyer van die Aula omskep in ‘n karnaval van kreatiwiteit: kunswerke deur bekende kunstenaars, teater memorabilia, top wyne, sjerries , port, teatrale smulhappies en spesiaal geskepte teater blomruikertjies deur Amica Mea bloemiste word te koop aangebied.
Kom ontmoet jou eietydse ikone en geniet ‘n glas wyn, ‘n kunswerk canape en poseer vir ‘n foto saam met hulle.
Heerlike, kunssinnige smulhappies deur bekende spysenier en teaterkundige Johan van der Merwe, word ook te koop aangebied ten bate van die TBF.