Die woema van ’n windgat wyfie

Dis Shaleen Surtie-Richards op haar beste! Sy skitter in hierdie eenvrouvertoning, Woema van ‘n windgat wyfie, ‘n skreeusnaakse komedie waarin die mensdom en verhoudinge bekyk word vanuit die perspektief van ‘n vroulike “windgat”.


Dis die vierde stuk in die reeks oor persoonlikheidstipes en volg op Annale van ‘n windgat, Ballade van ‘n banggat en Jou gat, my skat. Net soos in die vorige stukke lei Woema van ‘n windgat wyfie op ‘n humoristiese manier die teatergangers amper ongemerk tot beter begrip vir onderlinge verskille en tot groter verdraagsaamheid teenoor mekaar.

Hierdie windgat wyfie het ‘n oormaat woema. ‘n Windgat-vrou is baie anders as ʼn windgat-man – meer subtiel en misterieus. Haar woema is onmiskenbaar met estrogeen en adrenalien vermeng. Hierdie vroulike perspektief skep heerlike komedie met raakvat wyshede, toegedien met deernis en lewensinsig.

Van die eerste keer oomblik dat Surtie-Richards op die verhoog verskyn tot by haar laaste buiging het sy die gehoor in die palm van haar hand. Met haar spontane aanslag laat sy op so ‘n manier reg geskied aan Barry van Rensburg se slim geskryfde teks dat die gehoor telkemale skater van die lag. Sy beeld die verskillende karaktertipes se oortuigend uit dat jy dadelik daarin die mense om jou (en jouself!) herken.

Om vrou-alleen ‘n saal vol mense vir amper ‘n uur lank te boei en te vermaak is sekerlik nie maklik nie. Die staande applous aan die einde van die vertoning bewys dat Surtie-Richards dit regkry.

Die volgende vertonings van Woema van ‘n windgat wyfie vind tussen 6 en 10 Oktober tydens die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom plaas. Besprekings by Computicket.

Met: Shaleen Surtie-Richards
Teks: Barry van Rensburg
Regie: André Stolz
Vervaardiger: Windgat-produksies

Shaleen Surtie-Richards
Shaleen Surtie-Richards

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar