Kamp, ‘n komedie deur Ferdinand Bekker, is gebore uit Suid-Afrikaners se groot liefde vir kampering in al sy vorme en hul liefde vir die buitelewe. Dit help ook dat Weg reis-tydskrif gereelde leesstof is in sy klein huisie. Bekker was verantwoordelik vir Net ‘n Chilliburger en Chips asseblief!, Die Roadtrip en Dis 20h15 wat by Kunstefeeste en teaters reg oor die land opgevoer is.

Godritch en Claassen het gaan uitkamp, nie net enige plek nie, maar in ‘n afgeleë wildernis gebied. Wat kan nou lekkerder wees? Hulle kan hul daaglikse sorge agterlaat en net as een met die natuur verkeer, maar soos enige gesoute kampeerder weet is dit nie so maklik nie. Wat as alles nie ingepak is nie? Wat as die vuurhoutjies vergeet is? Wat as daar geluide in die nag is? Twee mans teen die wildernis, wat kan verkeerd loop?

In die rolverdeling is Brendon Daniels as Claassen. Claassen is in sy laat veertigs met ‘n vrou in haar vroeë dertigs. ‘n Rolprent vervaardiger en toep ontwikkelaar. Hy het selfs in sy jeug teater vervaardig. Hy beskou homself as ‘n kunstenaar, maar is eintlik net ‘n sakeman. Hy speel beter gholf as Godritch. Brendon Daniels is al verskeie kere bekroon vir sy teater en film werk. Hy was al te siene in Boland Moorde, Fynskrif, Sara se geheim, Four Corners en vele ander rolprente en reekse.

Deon Lotz is Godritch, ‘n man in sy vyftigs. Suksesvol in sy terme. ‘n Entrepeneur. Hy was al twee keer getroud en het 7 kinders. Ja, sewe. Die jongste is 2. Hy beskou homself as ‘n kranige sportman, maar speel eintlik net gholf. Deon Lotz was al te siene in vele rolle op die verhoog, televisie en skerm, onder andere in Die Byl, Dis koue kos skat, Legacy en Griekwastad.

Gaerin Hauptfleisch behartig die regie. 

(Ouderdomsbeperking van 10- Taal)

Kamp, ‘n komedie met Brendon Daniels en Deon Lotz by Die Boer teater restaurant in Durbanville- Woensdag 2 Nov- Kaartjies kos R180 en is beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

Kamp foto Gys Loubser 2021 Deon Lotz Brendon Daniels
Deon Lotz en Brendon Daniels in Kamp, foto Gys Loubser 2021

Lewer kommentaar

Leave a Reply