Lagstories, tong-in-die-kies-stories en liedjiestories — Die Absa KKNK is vanjaar ‘n groot saamtrek vir storievertellers.
Van die land se talentvolste storievertellers kom die geselsbanke op die verhoog inneem, in twee produksies getiteld Woordmusiek…En Dissie Waarheid asook Stoepstories.
Woordmusiek…En Dissie Waarheid
Stef Kruger, bekende liedjieskrywer, sanger, digter en kitaarspeler gaan vir vyf dae gehore vermaak met sy oorspronklike liedjies, eenvoudige klanke en “ware” stories. Hy het al meer as 400 liedjies self geskryf waarvan oor die 300 opgeneem is deur bekende en onbekende sangers. Dozi alleen het al 56 van Kruger se liedjies opgeneem wat gunstelinge soos “Pennies op die spoor”, “Grassade” en “Tussen jou en my” insluit.
Tydens die vertonings sing Kruger verskeie van sy eie liedjies, soos “Bosveldmooi”, “Kronkelpadbeloftes” en “My Wortelwêreld”. Hy gaan ook met gewilde storievertellers gesels soos Dana Snyman, Arno van Zyl, Martelize Brink, Elias Nel en Poem Moodie.
Aan die einde van Kruger se program, sal Dissie Waarheid-gehore ook bederf word met oorspronklike volksmusiek-klanke, met ‘n 10 minute uitreksel uit die produksie Klein Karoo Klanke.
Klein Karoo Klanke is vier jaar gelede op die planke gebring toe mense soos Ronelle Erwee en André Strijdom (musiekregisseur) die Karoo-pad gevat het om navorsing onder die mense van die streek en hulle musiek te doen. “Dit is musiek wat ons ontdek het en wat nog nooit opgeneem is nie,” vertel Erwee. “Dit klink soos musiek uit die groter Karoo, deuntjies wat bekend klink maar ook nie heeltemal bekend is nie.” Vier van die ongeveer 35 oorspronklike lede sal optree, waarvan drie nog skoliere op Oudsthoorn is.
Die vertonings is elke middag om 13:00 in die Rembrandtsaal.
30 Maart: Arno van Zyl; 31 Maart Poem Mooney; 1 April: Dana Snyman; 2 April: Martelize Brink; 3 April; Elias Nel
Stoepstories
Musiek en storievertel gaan ook hand aan hand in die produksie Stoepstories. Ollie Viljoen is ‘n bobaas storieverteller en hy kuier saam met Andries Vermeulen, opskop-liedjie koning met ‘n Namakwalandse aksent en Peter Mitchell, wat al deur Huisgenoot se voormalige redakteur Esmare Weideman beskyf is as “half Bob Dylan, half Chris de Burgh”.
Die drie musikante en kunstenaars kuier saam en vertel hoe elke liedjie ‘n storie het, en elke deuntjie ‘n storie oproep.
Stoepstories word aangebied by die ATKV Neelsie Teaterkafee, elke aand om 19:30 vanaf 30 Maart – 2 April. Die produksie is ‘n buitelugprogram.