Kunstefees op ‘n skip

RSG en Lefra Produksies se eerste volwaardige Afrikaanse Kunstefees op Starlight Cruises se nuwe skip, die MSC Opera vind binnekort plaas.


Die Oppiwater Kunstefees vaart sal plaasvind van 17 tot 21 Maart. Oppiwater besoek onder andere Maputo en die Portugese eilande. Die res van die tyd hou hulle Afrikaanse Kunstefees met verskeie kunstenaars, toneel-, komedie-, kabaret- en musiekproduksies. Dis uniek – ‘n kunstefees op ‘n drywende hotel met sy pragtige teater en verskillende kleiner venues.

Magdaleen Kruger, Stasiebestuurder van RSG en Frans Swart, Hoof Uitvoerende Beampte van Lefra Produksies het een oggend ontbyt geëet om te gesels oor 2014 se beplanning. Daar is gesels oor wat RSG en LEFRA saam kan doen wat uniek is. Eers sê Magdaleen: “Wat van ‘n spesiale Kunstefees?” En Frans haak af en sê: “Maar wat van ‘n Kunstefees op ‘n luukse skip?” En so is die Oppiwater Kunstefees op die MSC Opera gebore.

Die Oppiwater Kunstefees op die MSC Opera neem verskeie bekende Afrikaanse name uit Suid-Afrika se vermaaklikheidswese. Laurika Rauch doen haar Grootste Treffers-konsert. Sandra Prinsloo is te sien in Oskar en die pienk tannie, en Koos Kombuis is ook oppiwater. Lefra se nuwe klug, My boetie se sussie se ou deur Ray Cooney met onder andere David Rees en Hennie Smit premiere ook op die boot met regie deur Frans Swart. Kom lag lekker vir Hannes Muller in Groet die Grotman. Liewe Heksie vaar (vlieg) ook saam met twee splinternuwe verhoogproduksies, Liewe Heksie en die tuindwergie en Liewe Heksie en Botterblom wat spesiaal vir Lefra deur Verna Vels geskryf is en vir die verhoog verwerk is deur Frans Swart. Koos van der Merwe se Leonard Cohen in Afrikaans word ook aangebied.

Cindy Swanepoel, David Reees & Ana van Achterbergh
Cindy Swanepoel, David Reees & Ana van Achterbergh
RSG aanbieders, Amoré Bekker en Martelize Brink lewer inspireringspraatjies en Derrich Gardner is jou gasheer met die dekpartytjie.

Die Oppiwater Kunstefees besoek Maputo, die hoofstad van Mosambiek. Die volgende dag word daar aangedoen by die Portugese eilande waar jy LM Prawns kan eet en op verskeie ekskursies kan gaan.

Bespreek by 087 075 0889.

Lewer kommentaar

Leave a Reply