Moord en verkragting onder die soeklig by Absa KKNK

Toe Charles J. Fourie onlangs agter sy lessenaar ingeskuif het om sy jongste produksie Offer te skryf, sou hy nie kon raai dat dié produksie in ‘n tyd sou afspeel wat Suid-Afrika se geweld-fenomeen opnuut die land in rou sou dompel nie. Of dalk is dit júís so voorspelbaar.


Die onlangse grusame groepsverkragting van Anene Booysen (17) in Bredasdorp en die skokkende skietvoorval waarin die sportheld Oscar Pistorius sy vriendin Reeva Steenkamp (29) na bewering vermoor het, is vorme van geweld wat Fourie vierkantig in die oë staar in dié toneelstuk.

Offer is ‘n ontstellende en indringende teaterstuk wat die sinnelose geweld-fenomeen vanuit ‘n historiese asook eietydse oog bekyk. Dit sal die gehoor laat nadink en besin oor hoe anders ‘n persoon se lewe kon wees, as hy of sy nie blootgestel was aan geweld nie.

Fourie is ‘n bekroonde dramaturg en regisseur wie se produksies Agterplaas en Vrededorp, feesgangers in die verlede laat toustaan het.

Fourie vertel dat Offer die geskiedkundige karakter van Racheltjie de Beer, wat haar eie lewe vir haar boetie opgeoffer het, vermeng met ‘n hedendaagse karakter —’n eertydse politiese aktivis wat terugkeer na Suid-Afrika om ‘n verslag saam te stel oor ‘n seun wat vyf swart-mense tydens ‘n blindelingse skiettog in ‘n township afgemaai het.

“Hierdie gegewe is losweg gebaseer op die Skierlik-skietery (2008) waartydens ‘n jong blanke seun enkele jare gelede op township-inwoners in Noord-Wes losgebrand het met ‘n .303 en in die proses ‘n ma en baba se lewe geneem het,” vertel Fourie. “Hierdie soort geweldsoptrede, asook ander vorme van geweld soos terrorisme, verkragting, moord, asook die reaksie van vergelding en wat dit tot gevolg het in ons samelewing, word onder die soeklig geplaas in die stuk.”

Tipiese vrae wat Fourie die gehoor mee laat worstel is: Hoe reageer of voel ‘n ouer of broer as jou dogter of suster verkrag word? Leef ons in ‘n samelewing van ‘n oog vir ‘n oog of is vergifnis enigsins ‘n opsie?

Soortgelyk aan Fourie se bekroonde produksie Agterplaas, is Offer ook ‘n plekspesifieke produksie wat in die buitelug opgevoer sal word tydens die Absa KKNK.

Peter Butler, Dorette Potgieter, Leonard Moss, Charles van den Heever en Christia Visser
Peter Butler, Dorette Potgieter, Leonard Moss, Charles van den Heever en Christia Visser

Peter Butler, Dorette Potgieter, Leonard Moss, Charles van den Heever en Christia Visser is in die rolverdeling met Wim Kock wat die musiek sal behartig.

Verder tot die tema van misdaad, geweld en korrupsie, gaan daar ten tyde van die fees gesprekke gevoer word met twee deurwinterde joernaliste Adriaan Basson en Jacques Pauw. Dit vorm deel van die Skrywers & Stories-program wat feesgangers gratis sal kan bywoon.

Adriaan Basson is die assistent-redakteur van City Press en skrywer van die boek Finish & Klaar: Selebi’s Fall from Interpol to the Underworld. In sy nuutste boek Zuma Exposed, takel hy vrae oor president Jacob Zuma, die korrupsie aanklagte teen hom en wat dit die belastingbetaler kos om die presidensiële familie te onderhou. Basson gaan kaalvuis vrae beantwoord tydens die gesprek getiteld Om Zuma te Ontbloot, wat op die 2de April by die Rembrandtsaal in Oudsthoorn sal plaasvind.

Jacques Pauw, die bekende ondersoekende joernalis, dokumentêre filmmaker en verslaggewer vir die destydse anti-Apartheidskoerant, Vrye Weekblad, gaan tydens die gesprek getiteld Op die agterpaaie van Afrika, meer vertel van sy jongste boek, Rat Roads —’n aangrypende verhaal van ‘n Rwandese man se reis na Suid-Afrika. Dit gee insig tot die werklikheid van Afrika waarvan die meeste mense nooit sou kon droom nie. Hierdie gesprek sal op die 6de April in die Rembrandtsaal in Oudsthoorn plaasvind.

Lewer kommentaar

Leave a Reply