Die Suidoosterfees doen sy slagspreuk, “’n Fees vir almal!” in 2021 gestand met ’n verskeidenheid produksies wat van 26 April tot 2 Mei by Artscape opgevoer word. Volgens Jana Hattingh, uitvoerende hoof, is dit vir die fees belangrik om steeds werksgeleenthede vir kunstenaars te bly skep, en om aan gehore ’n veilige teaterervaring te bring waar hulle die beste vermaak kan geniet. Omdat die fees saam met die skoolvakansie val, is daar opwindende kinderteater-produksies en gesinsvermaak op die program.

In Pietersielie en Roosmaryn vertel stories! reis twee karakters die wêreld vol met hul tower-karavaantjie, op soek na kinders om stories mee te deel. Dié vermaaklike kinderteater-produksie is saamgestel deur Dean Balie en Bianca Flanders. Balie het pas ’n Sinjatuur-toekenning by kykNET se Fiëstas ontvang, en Flanders is ’n aktrise en skrywer van die gewilde kinderboek, Prinses Pampoenpit.

Ekstr-r-r-avangza is ’n grensverskuiwende produksie waarin die beste kunstenaars uit verskeie genres bymekaarkom. Feesgangers sal hulle verkneukel aan items wat wissel van sirkustoertjies tot dans, van klassieke musiek en ballet tot sang. Komediante is ook te sien in dié kleurryke aanbieding wat die hele gesin sal betower. Wenners van die Suidoosterfees se ontwikkelingsprojekte tree ook hierin op.

Mense wat mal is oor komedie, gaan nie teleurgesteld wees nie. Nik Rabinowitz gaan die lagspiere prikkel in Nik Rabinowitz: Late Bloomer, en Wayne McKay en Mariette Loubser gaan feesgangers laat skater in Lag saam.

Musiekliefhebbers kan uitsien na die volgende op die Suidoosterfees-spyskaart, A Night at the Musicals met die sopraan Lynelle Kenned, die bariton Niël Rademan en Lucas Heinen op klavier. Dié produksie, waarin musici klassieke en ligter style afwissel, sal gehore wegvoer na die wonderwêreld van die musical. Die SAMA-wenner Anna Davel vier die veelsydige, sielvolle Shirley Bassey se ongelooflike talent in Shirley Bassey – Diamonds are forever, met die grootste treffers uit die wêreldster se repertoire.

Aanhangers van klassieke musiek kan naderskuif vir Herfs – ’n 20-minuut opera in een bedryf. Die operasanger en komponis, Raimondo van Staden-Slabbert, se nuwe operapartituur, Herfs, volg die verhaal van twee bejaardes en hul struwelinge met die wêreld terwyl hulle regmaak vir hul finale sielshoofstuk. Hierdie vrolike, dramatiese partituur met ’n romantiese inslag is plesierig op die oor.

Internasionale Jazzdag word vanjaar wêreldwyd op 30 April gevier. Om in hierdie spesiale geleentheid te deel, kan feesgangers hulle verlustig aan die lieflike klanke van die Ramon Alexander-kwartet, met Ramon Alexander, Byron Abrahams, Annemie Nel en Valentino Europa op die verhoog.

Drome het vlerke bekyk die ervarings, uitdagings en drome van vyf jong liedjieskrywers wat uit verskillende agtergronde kom. Die liedjieskrywers se oorspronklike materiaal en komposisies is onder leiding van Frazer Barry verfyn tydens die eerste liriekskryfskool wat in 2020 deur die Suidoosterfees en Jakes Gerwel Stigting aangebied is.

Daar is ook sewe debuut-produksies van die NATi Jong Sterre-projek op die program, agt NATi Teaterfees-produksies en elf uitmuntende gesprekke, aangebied deur die Jakes Gerwel Stigting.

Lewer kommentaar

Leave a Reply