Die NATi Jong Sterre-projek is een van die Suidoosterfees se vlagskipinisiatiewe en word ondersteun deur NATi, die Jakes Gerwel Stigting en Artscape. Deelnemers aan die projek deurloop ’n intensiewe slypskool waartydens hulle dramatekste afgerond en gereedgemaak word vir die Suidoosterfees-verhoog. Die slypskool, onder leiding van ervare teatermakers, vind tydens ’n skrywersresidensie van drie weke by die Die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-Huis in Somerset-Oos plaas.

Die NATi Jong Sterre vir 2021 is Margo Kotze, Andrico Goosen, Fabian Rainers, Xolisa Ngubelanga, Carlo Daniels, Gerhard Visagie en Misha Krynauw. Al die kandidate se toneelstukke debuteer op 1 en 2 Mei by die Suidoosterfees. NATi se uitvoerende hoof, Cornelia Faasen, sê dat hulle opgewonde is oor die verskeidenheid van genres en temas wat deur vanjaar se jong dramaturge aangepak is. “Die projek lê ons na aan die hart. Dit bied ’n wonderlike platform en leerskool aan belowende jong kunstenaars. Die samewerking tussen die vennote wat die projek ondersteun, is ’n voorbeeld van die impak wat sinergie kan hê,” sê sy.

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Artscape, is dankbaar dat die Jong Sterre-produksies in 2021 opgevoer kan word te midde van die Covid-19-pandemie. “Ons wil feesgangers verseker dat hulle veiligheid ons heel grootste prioriteit is. Artscape, wat vanjaar 50 jaar oud is, sien uit na die sewe produksies wat in ons teaterkompleks gaan debuteer.”

Die Suidoosterfees se direksievoorsitter, prof. Brian Figaji, beklemtoon die fees se verbintenis tot ontwikkelingsprojekte. “Watter wonderlike leerskool is dit nie vir aspirant-kunstenaars om in die praktyk saam met ervare leermeesters te kan werk nie,” sê hy. Ervare hande wat vanjaar gehelp het om die jongelinge se vaardighede te slyp, sluit in: Lee-Ann van Rooi, Stian Bam, Tinarie van Wyk-Loots, Carel Nel, Mbulelo Grootboom, Keeno-Lee Hector, Gary Naidoo, Stephanie Hough, June van Merch, Gaerin Hauptfleisch, Ivan Abrahams en André Samuels.

Margo Kotze se Jong Sterre-debuut, Al dra ’n aap ’n goue ring, sal gehore laat skater. In dié produksie beland ’n bejaarde wit vrou in die pekel nadat sy ’n problematiese foto op Facebook laai en as rassis uitgekryt word. Terwyl Darren, ’n bruin joernalis, probeer om by die kern van die verhaal uit te kom, hang die vrou Bafana Bafana-vlae uit, kook Maleise kerrie en haal al wat ’n Tata Madiba-sêding is aan. Kotze se klug steek die draak met mense wat behep is met politieke korrektheid.

Andrico Goosen se tweemanstuk, But Baby, I Love You, speel af in ’n Oos-Randse boksgimnasium. Dit vertel die verhaal van ’n ouer bokser, Seconds Khumalo, en die seun van sy afrigter, Jerry van Tonder. Temas soos manlikheid, geslagsgebaseerde geweld, die verkragtingskultuur en verraad word aangespreek. Die pas is vinnig, energiek en fisies veeleisend vir sowel die akteurs as die gehoor.

Die workshop deur Fabian Rainers handel oor twee werktuigkundiges wat lyk of hulle net in suiers, nokasse en petrolfilters belangstel. In werklikheid hou dié twee, Tony Koop-en-Verkoop Gusmundo en Ras Nige Kammies, daagliks deurtastende gesprekke oor temas soos globalisering, kunsmatige intelligensie en identiteitspolitiek.

Xolisa Ngubelanga se Jong Sterre-debuut, It’s my Baby, verskaf ’n emosionele blik op plaasmoorde en rasseverhoudings. Dié drama sal gehore tot nadenke stem. Kokon, ’n fisieketeaterproduksie geskep deur Carlo Daniels, speel op die Kaapse Vlakte af en vertel die verhaal van Josh, ’n hoërskoolleerling wat geboelie word en onseker is oor sy seksuele identiteit. Gerhard Visagie se Mannetjie belig ook die trauma van ’n tienerseun wat boeliegedrag, geweld en seksuele misbruik ten prooi val.

The Infinite Woman deur Misha Krynauw bring hulde aan die kosbaarheid van moederliefde. Dié drama verken die interaksies tussen vroue in ’n familie waar die verlede by hulle aanhou spook. Krynauw gee treffend gestalte aan die kwesbaarheid van vroue in die aangesig van trauma. Alle NATi Jong Sterre-produksies word op 1 en 2 Mei 2021 by Artscape in die NATi Arena Teater opgevoer. Kaartjies by Computicket kos R80.

Lewer kommentaar

Leave a Reply