2016 Silwerskermfees: Die kortfilms

Vyftien kortfilms sal vanjaar weer meeding by die sesde kykNET Silwerskermfees wat van 24 tot 27 Augustus 2016 in Kampsbaai gehou gaan word (#silwerskermfees2016). Die onderwerpe van die kortfilms is uiteenlopend en jong en meer gevestigde talent sal weer wys dat die filmbedryf in Suid-Afrika in ‘n baie opwindende groeifase is.

Koue Voete
Moenie ‘n misdadiger aan sy skoene takseer nie.
Die regisseur en skrywer is Lara Lourens. Sy het aan die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria studeer waar sy praktiese ervaring opgedoen het in skryf, regie en toneelspel. Hoewel sy reeds haar teaterdebuut as regisseur gemaak het, is Koue Voete haar eerste professionele kortfilm as skrywer, regisseur en vervaardiger.

Die Bok
’n Verbitterde swanger vrou veg om haar roostuin te beskerm teen ’n bok terwyl haar huwelik verbrokkel.
Philip van Zyl is die regisseur en skrywer van Die Bok. Hy is ’n filmmaker van Pretoria wat ’n voorliefde het vir eg Suid-Afrikaanse stories met sterk menslike temas. Paul Thomas Anderson, Denis Villeneuve en Martin Scorsese tel onder sy gunsteling-filmmakers.

Onthou
Wanneer ’n jong, sorgelose hippie aansoek doen as verpleër by ’n streng, vol nonsens bejaarde dame, is daar reeds spanning vanaf die eerste woordewisseling. Tog ontwikkel hulle ’n dieper vriendskapsverhouding en leer mekaar hoe om die ander onvoorwaardelik te aanvaar. Ouderdom is net ’n getal, maar hartsvriende bly deel van jou bestaan.
Die regisseur van Onthou is Susan Coetzer, ’n bekroonde aktrise wat bekend is vir haar teaterdebuut in Diepe Grond, asook TV-reekse soos Daisy de Melker en Meester. Sy is ook ’n erkende skilder, joernalis en ’n skrywer. Verder tree sy landwyd op – of as inspirerende/motiverende spreker of met haar nuwe eenvrou-komedie Koek en Tert, wat deur haar geskryf is.
Die skrywer is Elanie Rupping wat haar deurbraak as skrywer met die tweede seisoen van die kykNET-jeugdrama Sterlopers gemaak het. Sy is tans skrywer en teksredigeerder op die sepie Getroud met Rugby.

Vlees van my Vlees
Vyftien jaar ná ’n gruwelike motorongeluk vier ’n joviale man en sy kwadruplegiese vrou hul twintigste huweliksherdenking. Ten spyte van die romanse en selflose liefde noop die frustrasies van haar gebrek hulle om die waarheid van hul gebroke verhouding, verwyt, pyn en eie magteloosheid te trotseer.
Die regisseur en skrywer is Matthys Boshoff. Ná filmskool het hy vir vier jaar in die kunstedepartement op verskeie internasionale films gewerk waarna hy ’n filmmakersresidensie in Amerika voltooi het. Hy het ervaring as skrywer vir televisie-drama en as regisseur op plaaslike sowel as internasionale advertensies. Hy ontwikkel tans ’n paar films.

Arts
André red beseerde diere, maar sy verhouding met die plaaslike veearts neem ’n donker draai wanneer sy ma begin inmeng …
PG de Jonge is die regisseur en skrywer van Arts. Hy het halfpad deur ’n joernalistiekgraad besef hy hou meer van fiksie. Nou maak hy flieks en laat die nuus oor aan ander.

Merk. Sny. Stoor.
Wanneer ’n psigologiese versteurde man se traumatiese verlede sy hede beïnvloed word ’n vreemdeling die slagoffer van sy eie trauma.
Ricardo Liut, die regisseur en skrywer van die kortfilm, is ’n multimedia- en grafiese ontwerp-dosent by die Noordwes-Universiteit. Hy het ’n BA in grafiese ontwerp en spesialiseer in fotografie, film en multimedia-ontwerp. Hy is tans besig met sy nagraadse studies. Sy MA in grafiese ontwerp fokus op film, narratologie en kinematografie. In 2015 was hy die regisseur van die kortfilm Die Monoloog saam met Zoo Productions.

En die wiele van die bus gaan om en om
Slapgat-busbestuurder Freddie Venter vervoer tien pasiënte van een geestesgestremde inrigting na ’n ander … en dan verloor hy sy vrag.
Regisseur en SAFTA-wenner Pieter Grobbelaar smokkel al vir jare met ons harte en koppe met sy verhoogstukke, operas, televisiereekse en flieks. Pieter se skeppings lig mens se siel, met sy oorspronklike stem, unieke oog en gut vir komedie en ’n kreatiewe klap om die onmoontlike moontlik te maak. Die skrywer van die kortfilm is die film-fanatikus Marina Bekker wat haar plekkie in die son gekry toe sy begin skryf het. Met ’n hele paar toekennings onder haar belt gee sy deesdae vrye teuls aan haar obsessie om nuwe paaie oop te skryf om films te maak in elke moontlike gedaante.

Kolskoot
Fanus Niemand is toe iemand …
Die skrywer en regisseur is Wimpie van der Merwe (33) wat in 2006 sy B-Tech-graad aan die Filmskool van TUT behaal het. Bekend vir sy rol as skrywer en regisseur van Karate Kallie werk hy sedertdien as skrywer, regisseur en kameraman in die filmbedryf.

Spoor(loos)
As ons maar net kon verdwyn.
Marisa Drummond is ’n bekende televisie-, film- en teater-aktrise en is die regisseur van Spoor(loos). Sy het haar debuut as regisseur in die nuwe kykNET-sepie Getroud met Rugby gemaak. Die skrywer van die kortfilm is die PANSA-bekroonde skrywer Jannes Erasmus wat sy kortfilmdebuut maak. Jannes is grootliks bekend vir sy grensverskuiwende teaterproduksies.

Oom
Ná oom Johan Booysens ’n jong man langs die pad optel, besef hy hoe gevaarlik die pad kan wees as mens nie jou geselskap ken nie.
Die regisseur en skrywer is PJ Kotze, ’n filmmaker gebaseer in Johannesburg met ’n passie vir platteland-stories, regte klein-dorpie-karakters en avontuur. Hy is op sy absoluut gelukkigste as hy onder die water of bo-op ’n berg kan staan met ’n kamera in sy hand en vrees na vreugde kan verander. Ná vyf jaar van klasgee in film, is hy tans voltyds toegewy om sy ondervindings as ’n Suid-Afrikaner te probeer interpreteer en uit te leef deur film as medium. Film is die naaste wat hy al kon kom aan waarheid in die wêreld.

Hum
Thomas hoor die verlammende hum-klank al vir so lank dat hy skaars kan onthou wanneer dinge vir hom begin skeef loop het. Met die hulp van sy psigiater, dr. Swart, begin hy om sy verlede te ontleed sodat hy vir Jana, die liefde van sy lewe, terug kan wen ten spyte van die onafwendbare gedreun asook die gevoel dat hy konstant dopgehou word …
Willem Grobler is ’n Kaapse skrywer en regisseur met ’n agtergrond in verskeie velde binne die filmindustrie en is ook die skrywer en regisseur van Hum. Hy is ’n groot liefhebber van genre-films, en met die ondersteuning van die NFVF ontwikkel hy tans sy speelfilm God is Good, ‘n neo-noir-film wat ondersoek hoe mense reageer as hulle gekonfronteer word met Suid-Afrika se ekstreme vorms van onreg en geweld. Sy bekroonde kortilm, The Great Gatsby: Redemption, is binnekort by die 2016 Durban Internasionale Filmfees te sien.

Die Muse
’n Naïewe jong verpleegster word as oppasser aangestel om na ’n briljante, maar moeilike skrywer met Aspergersindroom om te sien. Maar, as ’n skrywer sukkel om leuens te vertel, hoe is hy veronderstel om stories op te maak?
In 2014 ontvang Frannie van der Walt, die skrywer en regisseur van Die Muse, ’n B-graad (cum laude) in visuele kommunikasie met film- en TV-draaiboekskryf as hoofvak by The Open Window Institute in Pretoria, gevolg deur ’n honneursgraad in 2015 by AFDA in Kaapstad met hoofvakke in draaiboekskryf en regie.

Plankekoors
Daar’s ’n fyn lyn tussen opwinding en vrees. Dis net woorde. Jy’t ’n keuse. Veg of vlug?
Nini Conradie is die regisseur en het haar honneursgraad in drama en teaterstudie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy spits sederdien haar fokus op verskillende areas van produksie. Plankekoors is haar debuut as regisseur. Die skrywer van Plakekoors is Ludwig Binge wat in 2014 sy meestersgraad in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Hy is ’n vryskut-akteur en het deelgeneem aan verhoogproduksies soos Balbesit, Cabaret en Samsa-masjien, sowel as die speelfilm Johnny is nie dood nie.

Die Biker
’n Motorfietsryer kies die oop pad as ontvlugting. Het hy die regte afdraaipad gekies?
Geoffrey Butler en Lisba Vosloo is die mede-regisseurs van Die Biker. Geoffrey is ’n vryskut-regisseur en -redigeerder van verskeie televisieprogramme en advertensies. Hy het onlangs die mede-regie van ’n dokumentêre film oor Pieter-Dirk Uys behartig.
Lisba Vosloo is ’n bekroonde dokumentêre filmmaker, regisseur en redigeerder wat al op verskeie programme gewerk het wat strek van opera tot oorlog. Sy en haar vennoot, Stef Albertyn, het ’n na-produksiefasiliteit teen die hange van Tafelberg in Kaapstad. Die redigering van die teks is deur Henry Cloete, ‘n skrywer van Kaapstad, behartig. Hy is betrokke by verskeie film- en televisieprojekte en sy debuutroman, Draalnoot vir ’n Janfiskaal, het in 2014 verskyn.

Beloofde Land
Lodewyk Mouton is die naïewe heerser van die diktatorskap Anskroepolis. Wanneer ’n groep sosialistiese rebelle by sy herehuis opdaag en dreig om hom te onttroon, word Lood gekonfronteer met die realiteit van sy borrel-bestaan en die ellende van sy volk.
Mia Cilliers is ’n skrywer en regisseur van Kaapstad met ’n agtergrond in dokumentêre films, webreekse en werklikheidstelevisie. Sy het ’n meestersgraad in dokumentêre kunste aan die Universiteit Kaapstad. Sy is die skrywer en regisseur van Beloofde Land.

kykNET het vanjaar ’n sestiende projek geïdentifiseer wat nog nie gereed is vir uitvoering nie, maar baie potensiaal toon. Die projek se skrywer gaan onder leiding van kykNET se bekwame opdraggewende vervaardigers die draaiboek verder ontwikkel en dit sal by volgende jaar se kortfilmprojek ingesluit word. Die titel van die film en die naam van die skrywer sal by die Silwerskermfees in Augustus bekend gemaak word.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar