George Clooney se politieke riller fokus op ‘n jong, ambisieuse perssekretaris (Ryan Gosling), wat tot sy verbasing ontdek dat politiek ‘n vuil spel is. 😮 The Ides of March raak ongelukkig nie minder voorspelbaar as dit nie.
Dis die basiese politieke storie. ‘n Paar slinkse jakkalse wat mekaar probeer uitoorlê, ‘n joernalis (Marisa Tomei) wat glo agter die kap van die byl wil kom, en iewers langs die pad is daar ‘n verhouding met ‘n mooi meisie (Evan Rachel Wood).
Hoekom hierdie film aanbeveel? Daar is goeie vertolkings deur Ryan Gosling, George Clooney, Phillip Seymour Hoffman en Paul Giamatti. Die fliek gee ook ‘n kykie na wat agter die skerms gebeur tydens ‘n politieke veldtog. Laastens moet mens Clooney se regie krediet gee. Hy hou die kyker vasgenael van die een dramatiese oomblik na die ander, wat nogal gedoen wil wees met dié storielyn, waarvoor hy ook deels verantwoordelik was.
7 op ‘n skaal van 10.
Met: Ryan Gosling, George Clooney, Philip Seymour Hoffman, Paul Giamatti, Evan Rachel Wood, Marisa Tomei, Jeffrey Wright en Max Minghella.
Regisseur: George Clooney
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

