Die paneel van gesiene beoordelaars vir die 2019 Nasionale Jeugmusiekkompetisie is pas bekend gemaak.
Die paneel kundiges vanuit Bloemfontein, Johannesburg, Kaapstad, Potchefstroom en Pretoria en verteenwoordig ‘n eindelose veld van ondervinding om die mededingers in drie kategorieë – klavier, stryk- en blaasinstrumente – te beoordeel.
Hulle sal die 18 deelnemers individueel beoordeel deur oor vier dae vanaf 8 tot 12 Oktober na meer as ‘n honderd werke te luister by die Hugo Lambrechts-Ouditorium in Parow, Kaapstad.
Die paneel bestaan uit Michael Maas (voorsitter), Prof Farida Bacharova (strykwerk), Prof Tinus Botha (klavier), Polina Burdukova (strykwerk), Samson Diamond (strykwerk), Dr Franklin Lewis (klavier), Dr Mario Nell (klavier), Dr Bridget Rennie-Salonen (fluit) and Junnan Sun (klarinet).
Drie van hulle, Polina Burdukova, Mario Nell en Junnan Sun is voormalige pryswenners van die kompetisie wat vanjaar sy 35ste bestaansjaar vier.
Die kompetisie is daarop gemik Suid-Afrika se opkomende klassieke musieksterre te identifiseer, bloot te stel en te ontwikkel.
Met R145 000 se kontantpryse, ‘n goue medalje en silwer en brons medaljes in drie afdelings het die kompetisie vir klassieke instrumentaliste tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar vanjaar 30 inskrywings gelok. Ná oudisies, is slegs 18 vir die wedstryd gekeur.
Ter bevestiging van sy plaaslike oorsprong, bied die kompetisie ook ‘n spesiale prys aan vir die beste uitvoering van ‘n werk deur ‘n Suid-Afrikaanse komponis.
Al die gekeurdes speel indie eerste twee rondes waarna ‘n maksimum van 12 spelers na die derde ronde op Donderdag 10 Oktober deurdring. Die voorste ses spook dan sake uit onder begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO). Al die deelnemers moet ‘n wye repertorium van werke uit verskillende styltydperke speel.
“Die NJMK is die enigste wedstryd in Suid-Afrika waar die finaliste in kompetisie sake uitspook as soliste saam met ‘n volle simfonie orkes, die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, onder leiding van Brandon Philips,” sê Michael Maas, stigter van die NJMK en voorsitter van die Nasionale Jeugmusiekstigting.
Getrou aan die NJMS se visie, nooi die stigting voormalige mededingers en studente om in die skadujurie te dien om sodoende ‘n nuwe geslag beoordelaars op te lei. Die voorsitter van die skadujurie is Prof John Hinch, fluitspeler en emeritus professor van die Universiteit van Pretoria.
Die skadujurie kan nie die puntetoekenning van die hoofbeoordelingspaneel beïnvloed nie, maar hulle ken die Skadujurieprys van R3 000 vir die mees belowende semi-finalis toe.
Die 2019 skadujurie bestaan uit Rory Africa, Universiteir van Kaapstad (UK), Seth Alexander, UK, Dominic Daula, Royal Northern College of Music, Manchester, Lourens Fick, Universiteit van Stellenbosch (US), Lara Havenga, US, Nicola McLachlan, UK en Grace Njogu, UK. Met minder as ‘n week voor die afskop van die kompetisie is meer as derde van die beskikbare kaartjies vir die Finaliste se Galakonsert op Saterdag 12 Oktober reeds opgeneem.