“Een van die belangrikste Afrikaanse albums ooit.” Dit is die hoë lof wat Om te Breyten reeds ingepalm het. En dis beslis vol heerlikhede en seerkry wat jou dwing om te luister en aan te hou luister en weer te luister.
Hou almal wat van David Kramer hou ook van Johannes Kerkorrel? En van Duusman en Mynie Grové? En Lieze Stassen en Brasse vannie Kaap? Dit maak nie saak nie, want op dié cd kry jy ‘n proeseltjie van almal van hulle, en van Anton Goosen, Steve Hofmeyr, Valiant Swart, Wouter van de Venter, Amanda Strydom, Paul Riekert, Laurinda Hofmeyr, Piet Botha, Liza Beekman en Battery 9.
Maar eintlik gaan dit oor Breyten Breytenbach, oftewel Jan Blom, Jan Afrika, B B Lazarus.
Deon Maas van Gallo sê dit het in die vroeë jare tagtig begin toe twee mense, Albert en Nanette, mekaar ontmoet het. Hulle ontdek Anton Goosen se Om te Breyten op sy Jors Troelie-album en skielik kry hul aandjies by die opsitkers ‘n nuwe dimensie.
Albert du Plessis begin toe wonder oor ‘n deurnag-opsitkers: ‘n klomp Afrikaanse liedjieskrywers en sangers wat toonsettings van Breyten se poësie op een album doen. In 1998 ontmoet Albert vir Anton Goosen en siedaar: na ‘n paar maande se harde werk sien Om te Breyten, met Anton en Albert as uitvoerende regisseurs die lig.
Natuurlik sal almal nie van elke snit op die cd hou nie. Maar daar is karakters wat jou bybly – die ou wat vir sy lover ‘n leeu wil gee om Maandae op werk toe te ry, die ou wat ‘n vissie koop wat net groei en groei, die ou vir wie die nag stout is en wat sy sterre dank vir ‘n vrou tussen die bene, die son op die berg, ‘n voël in die see en ‘n môre vir sy nagte. Wie anders as Breyten Breytenbach kan Afrikaans so laat raaksê?
Maar Breyten klap ook hande vir dié groep kunstenaars wat hy “klankvangers, liedjieboere, woordvlinders, hartplukkers en vrye voëls” noem wat “die vlam uit die verse gaan haal om dit ritme en ruimte te gee”. En hulle het, soos hy sê, “al die muwwe argumente oor taal en sin van die tafel gevee deur dood-eenvoudig net te doén”.