Seisoene

Met ‘n verskeidenheid musiekstyle op die CD is Willie Strauss se Seisoene ’n produk wat wyd byval sal vind.


Strauss het die meeste van die lirieke self geskryf en daar is toonsettings deur Christa Steyn, Roelof Colyn en Fanie Fouche. Douw Steyn het die titelsnit van die CD getoonset en ook die verwerking daarvan gedoen.

Christa Steyn was ’n goeie vriendin van Strauss en haar toonsetting van die liedjie “Boom” is een van die laastes wat sy voor haar dood verlede jaar gedoen het – ’n baie spesiale snit.

Sy het ook die toonsetting van Kalla Bremer se “Herman hou van meisies” hanteer, ’n liedjie wat hartsnare gaan roer. “Klasie” van Philip Moolman was jare lank deel van Strauss se repertoire, maar dit is nou vir die eerste keer opgeneem. Roelof Colyn begelei op die klavier.

’n Ander besondere bydrae is Karin Hougaard se liedjie “Anders” wat sy spesiaal vir die album geskryf het.

Met ’n wye verskeidenheid musiekstyle kan jy voel of jy aansit vir ’n Kersmaal. Daar gevoelvolle ballades soos “Granaat” en op die tong-in-die-kies-liedjie “Kook” word daar ge-rock ’n roll.

Daar is verwerkings deur Ockie Vermeulen, Roelof Colyn, Christa Steyn en Douw Steyn, en elkeen het sy of haar merk op die liedjies gelos. Mauritz Lotz, David Klassen, Susan Mouton, Roelof Colyn en Lizelle le Roux is van die musikante wat Strauss begelei.

’n Kleurvolle hardebandboekie is deel van die unieke verpakking. Nie alleen die lirieke van die musiek is hier afgedruk nie, maar ook ‘n versameling van Strauss, wat benewens sanger ook ’n ywerige kok is, se gewildste resepte.

Die musiek van Seisoene is deel van Strauss se nuwe “kabasert” Daar is ‘n Engel in die Koskas wat vanjaar by die KKNK gedebuteer het.

Willie Strauss, Seisoene
Willie Strauss, Seisoene

Vir navrae oor Seisoene kontak Theresa du Preez – The Sixth Sense – 011 – 880 1027

Lewer kommentaar

Leave a Reply