Roekeloos
17 Junie
‘Gebed, grond en rugby …’
Voeg hierby kwessies soos manlike identiteit, die stand van ons demokrasie, velkleur, inkomste en kultuur en die pot – en sommige gemoedere – begin te stoom.
In die bekroonde Balbesit ondersoek Saartjie Botha die plek van Afrikaanses – en Afrikaners – in die hier en nou van Suid-Afrika. Maar omdat sy rugby as metafoor gekies het, word dit ook ’n verhaal van mans se rol in die hedendaagse.
Met rugbyterminologie en bewegings deel die akteurspan rooi kaarte uit, plettervat vooropgestelde idees en druk selfs ’n drie van plesier. Regisseur Jaco Bouwer gebruik musiek, sang en beweging om hierdie rugbyspan tot bo-aan enige punteleer te laat klim, met gedagtes wat jou lank gaan besig hou.
Dis 80 minute se aksie wat nie ophou nie, met die hele ensemble wat bekroon is met ‘n Kanna-toekenning (2013) en ’n Naledi vir hul uitmuntende spanwerk.
Balbesit word van Donderdag 19 Junie tot Saterdag 21 Junie en weer Dinsdag 24 Junie tot Saterdag 28 Junie by die Kunstekaap-teater, Kunstekaap (Artscape) opgevoer. Al die vertonings begin om 20:15. Kaartjies kos R100-R144 en is te kry by die teater (www.artscape.co.za) of by Computicket (www.computicket.co.za). Niemand jonger as 14.
Met: Geon Nel, Albert Pretorius, Marlo Minnaar, Brendon Daniels, De Klerk Oelofse, Ludwig Binge, Wessel Pretorius, Michael Wallace, Themba Mbuli, DJ Mouton, Lizo Thsaka, Siphesile Mdena, Piet Beyers, Graham Bourne, Andile Vellum, Neels Coetzee, Mark Hoeben, Carel Nel, Christiaan Olwagen, James Macgregor, Michael Wallace, Bongile Mantsai, Douglas Griffiths, Kyle Seconna & Thembekile Komani
Regie: Jaco Bouwer
Teks: Saartjie Botha
Choreografie: Ina Wichterich
Komposisie: Braam du Toit
Musikale regisseur: Awie van Wyk
Beligting: Wolf Britz
Musikante: Jeanette Claassens & Dorette Roos
Vervaardiger: Saartjie Botha