Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
‘n Jas wat netjies pas
Reeds met Willem het televisie verslaafdes geweet Tobie is vir groter dinge bestem, soos die Honeyman pantomimes, die Ray Cooney klugte (My Boetie se Sussie se Ou, My Vrou se Man se Vrou), die Harry Kalmer eenmanvertoning The Bitterbek Blues of Ben (die Breker) Bartman, Nunsence (waarvan Tobie ook die regie behartig het) en buitelandse rolprente soos Inside Out met Gilda Blacher, Emily McArthur en Philip Moolman.
Maar op ‘n ernstiger noot is die beskeie en private kunstenaar ook lief vir die werk van Shakespeare al voel hy hom te gevorder in jare vir die rol van Hamlet. Die afgelope paar maande was hy deel van die Chekov geselskap wat landwyd eenakters en kortverhale ter herdenking van die Russiese dramaturg se geboorte 100 jaar gelede opgevoer het. Rhodé Snyman (die KKNK se bemarkingsbestuurder), sê dit is die eerste keer in die geskiedenis van die KKNK (2004) dat ‘n ernstige drama die voorste verkoper onder die dramas was.
HM: Tobie, wat vir jou is komedie?
Tobie: Dis is ‘n moeilike vraag. Enigiets wat jou laat lag is komedie maar om dit vas te vat, is baie moeilik want ek dink dit verskil van persoon tot persoon. Ons het almal spesifieke goed waarvoor ons lag. Selfs stedelinge het spesifieke goed wat hulle snaaks vind. Grappe wat in Johannesburg werk, werk nie noodwendig in Bloemfontein nie maar daar is baie goed wat universeel snaaks is en dis hoekom ek byvoorbeeld kan kyk na Frasier op TV en myself in ‘n toestand kan lag. Ek dink hulle is briljant.
HM: Hoe vergelyk komedie in S.A. (stand-up comedy byvoorbeeld) met dié in die buiteland. Tref mens dieselfde geslyptheid hier aan?
Tobie: Nee glad nie, ek dink ons stand-up is in ‘n baie jong stadium. Ek wil dit hoegenaamd nie eers aandurf nie, want dit is ‘n verskriklike moeilike medium. Jong mense soos Gilda Blacher doen baie goed, ek admireer hulle pogings. Die uitdaging is om ‘n spesifiek Suid-Afrikaanse styl te ontwikkel sodat ons nie net die Amerikaners na-aap wat trouens die beste in die wêreld is.
HM: Persoonlik lê die begin vir my by Willem – die onvergeetlike karakter wat deur Manie van Rensburg* vir jou geskep is. Willem was sy tyd ver vooruit, ‘n amperse Afrikaanse Mr. Bean. ‘n Herkenbare en maklik identifiseerbare karakter. Jou sersant karakter in Die Sersant en die Tiger Moth toon ooreenkomste met Inspekteur Fowler uit The Thin Blue Line. Willem het onlangs weer ‘n heruitsending via kykNet beleef?
Tobie: Vir meeste mense lê die begin by Willem, maar ek het darem vier jaar ervaring by TRUK gehad voor dit. Ook ‘n paar flieks gemaak in daardie tyd soos Die sersant en die Tiger Moth, waarin ek ‘n konstabel gespeel het. Don Leonard was die sersant. Willem is al omtrent vier- of vyfkeer uitgesaai waarvan ek weet en ek dink dis nou al verouder. Tydsberekeninge en dit waarvoor mense lag is moontlik nou anders. Maar miskien vind mense die dialoog tussen my en Pennie (Katinka Heyns) nog steeds snaaks.
HM: Jy en Katinka ken mekaar van die vroeë sewentigs as vriende, kollegas en mede-aanbieders van Bloudruk, waarin onderhoude gevoer is met mense wat ‘n spirituele metamorfosis ondergaan het. Julle is ook sielsgenote. Is die tyd nie reg vir ‘n gesamentlike verhoogoptrede in ‘n stuk wat handel oor julle loopbane, vriendskap en individuele ervarings van die teater nie? ‘n Tipe Weyers, ‘n ontrafeling?
Tobie: Ek dink nie Katinka sal sommer weer op die verhoog optree nie, maar moontlik wel in ‘n televisie-reeks of -drama. Ons sou eerder graag vir Willem en Pennie wou voortsit – miskien soos hulle nou daar uitsien, hoe hulle tot op hierdie punt gekom het.
HM: Onder Bloudruk se gaste was Max du Preez en Antjie Krog. Was jou betrokkenheid by die reeks sowel ‘n openbaring as ‘n katarsis?
Tobie: Bloudruk was ‘n openbaring! Om Max te hoor sê hy’t vrede gemaak met sy vroulike kant is nogal iets hoor. Baie mense wat ‘n metamorfosis ondergaan het het dit wéér beleef by die oorvertelling daarvan en dit was wonderlik. Om te hoor wat party mense al in hulle lewe deurgemaak het, en hoe hulle dit verwerk het was baie spesiaal. Bloudruk se konsep van ‘gesond word, gesond wees en innerlike transformasie’ was Katinka se idee. Sy het self deur ‘n transformasie gegaan waarvan sy in die eerste episode vertel het en ek dink sy het gevoel dit het die potensiaal om ander mense te help. Ons het spesifiek bekende mense gebruik soos Antjie Krog en Willem de Klerk en gehoop die algemene publiek put inspirasie daaruit.
HM: Self leef jy al vir 30 jaar volgens die beginsels van Zen Boeddisme. Jou pa was verlig, oop vir ander gelowe en vorme van spiritualiteit. Hoekom Boeddisme, en nie byvoorbeeld Hindoeïsme nie?
Tobie: Meeste mense wonder seker maar wat ons hier maak en waaroor dit alles gaan. Boeddisme is vir my ‘n manier om alles te verstaan. Dit laat my ongelooflik warm, gelukkig en vreedsaam voel.
HM: Het die nuwe geloofsoortuiging ‘n invloed op jou keuses van werkaanbiedinge?
Tobie: Keuses van werkaanbiedinge is nie so volop dat ek baie kieskeurig kan wees nie. (Ons leef tog in Suid-Afrika.) Gelukkig is die Boeddisme baie aanpasbaar.
HM: Verlede jaar was jy Henry Hideosa, die reus se handlanger in Jack and the Beanstalk (Johannesburg Skouburg). Janice Honeyman het met dié produksie ‘n Britse maatskappy Qdos Entertainment, die grootste vervaardiger van pantomimes ter wêreld, se hulp ingeroep om van dié eeue-oue sprokie ‘n betowerende extravaganza te maak. Jy kry hoendervleis van lekkerte om te dink dat plaaslike produksies op dié skaal en ook met buitelandse kundigheid aangebied word?
Tobie: Die pantomimes vind gewoonlik in November, Desember en soms in Januarie plaas, spesifiek oor die vakansies seisoen. Qdos se mense was baie beïndruk met die hoë standaard van ons produksies. Dis al die tweede produksie waarvan hulle medewerkers is. Die Spider Man-vegkunsies in Jack is waargeneem deur Karl Magee, bekende en befaamde gevegsinstrukteur. Die tipe blootstelling aan veral jonger akteurs in die rolverdeling maak ‘n indruk en dit was wonderlik om te sien hoe Spiderman lewe kry. Die tegniese vooruitgang van groot teaters is verstommend. Een van die dae het ons teaters waar akteurs ‘n oorlas is. Magee was onder meer koördineerder vir die Spiderman rolprent se première by Leicester Square en regisseur van die eerste Spider-Man Stunt Show in Jeddah, Saoedi-Arabië. Dit was ‘n fees om die man dop te hou.
HM: Is dit ‘n tradisionele gebruik dat ‘n man die dame speel in ‘n pantomime?
Tobie: Ja, ek het verval in dié tipe rol omdat ek die eerste keer ‘n lelike suster in Cinderella gespeel het en dit goed gedoen het so, toe dink hulle ek kan dit maar weer en weer doen. Ek is toe ook gecast as die Wicked witch of the west in the Wizard of Oz, ‘n volwaardige musiekblyspel. Ook nogal ‘n uitdaging, ek wat so beeldskoon is, moes toe nou ‘n lelike heks speel…. Ek dink dis nogal gepas dat ‘n man die rol van die dame vertolk, mans kan goed doen wat vroue nie kan doen nie, en andersom. Dit laat mense anders na ‘n vroulike karakter kyk en jy beleef as’t ware ‘n vrou deur die oë van ‘n man. Ook leer jy om jou vroulike kant te ontdek wat vir my interessant was maar dan is dit ook lekker om half manlik te speel deur butch te loop met wye bene en ‘n rok. Dis onmiddellik komies. Ek het ook die dame gespeel in Robin’s a Cruise Ou, Sno White and the Seven Doffs, Sleeping Beauty en Doringrosie (regie).
(Tobie het ‘n toekenning gekry vir sy rol in Robin’s a Cruise Ou.)
HM: Pantomime is tradisioneel ‘n Engelse konsep. Verskeie teaters in Engeland waaronder die Ward het ‘n ryk en lang geskiedenis (sommige oor die 60 jaar) met pantomimes. Dink jy pantomimes in S.A. het gekom om te bly?
Tobie: O beslis. Janice se pantomimes is hier om te bly. Sy het ‘n Suid-Afrikaanse formule of styl ontwikkel wat ons eie is. Die Britse patomimes het sekere tradisies wat Janice verbreek het – tradisies wat eintlik betekenisloos was vir ons. (In 2004 is een van die Dames byvoorbeeld deur ‘n vrou gespeel.) Ongelukkig is die produksies te groot en duur om te toer en dis ‘n jammerte dat Janice se panto’s nie na ander venues in die land kan reis nie.
HM: Soos jy sê wyk Honeyman soms af van die tradisionele en gee aan die pantomimes ‘n Suid-Afrikaanse karakter. Principal boys wat normaalweg deur ‘n meisie gespeel word, word met swart akteurs vervang. Die uitruil van geslagsrolle is onlosmaaklik deel van die tradisionele pantomime. Slaag die swart / wit kruisverwysing?
Tobie: Ek dink SA-gehore sal nie deesdae ‘n vroulike pricipal boy aanvaar nie – al te gewoond geraak aan die regte ding. Swart / wit kruisverwysings is aan die orde van die dag en gehore is mal daaroor. In Sno White was Sneeuwitjie wit en die prins was swart. In Sleeping Beauty was die prinses swart, maar haar ouers was albei wit. En lekker grappies het daaruit gekom. Dit word tog al lank reeds met opera gedoen.
HM: Sou jy saam met buitelandse panto dames in ‘n ko-produksie (tussen S.A. en Brittanje of Australië byvoorbeeld) wou optree en in Londen in die Ward teater byvoorbeeld?
Tobie: Ek sou graag wou, ja, maar wat my afskrik is dat die Britse dames gewoonlik deur stand-up komediante gespeel word. Ek benader die dame vanuit ‘n akteursoogpunt, maar ek leer graag van ander mense.
HM: Watter een, volgens jou, is dié panto om in te speel?
Tobie: Die beste panto, vir die dame, hang natuurlik af van die produksie self maar vir my was die evil queen in Sno White baie lekker. Die lang, maer, lelike suster in Cinderella ook. Henry Hideosa in Jack and the Beanstalk was heerlik maar hy’s nie ‘n dame nie so hy tel seker nie.
“Ek het elke oomblik van Jack and the Beanstalk geniet! As ek op die verhoog gaan staan dan gil die kinders goed soos: ‘Go away, we don’t like you!’ Dit was verskriklik lekker.” – Tobie Cronjé
HM: Sno’ White and the Seven Dofs het ‘n begroting van oor die R1 miljoen gehad, agt dekorstelle en ‘n rolverdeling van negentien. Is die gepaardgaande lang speelvak nie ‘n bewys dat hulle geldmaak potensiaal sowel as artistieke waarde het nie?
Tobie: Artistieke waarde? Hmm. Tegniese vaardigheid en skouspel miskien, ja. Die koste verbonde aan so ‘n produksie is baie groot, dus maak die panto’s (blykbaar) nie vreeslik baie geld nie.
HM: Pantomimes sorg vir ‘n interessante juksta posisie (die held wat deur ‘n vrou in broekiekouse vertolk word en die hekse of koninginne wat deur mans vertolk word). Sommige panto dames vind dit vreemd en sê dit kan nie dramaties regverdig word nie. Miskien is kinders minder bang vir ‘n vrou en mooi bene het wel kommersiële waarde. Word daar nie soms na panto dames as drag queens verwys nie?
Tobie: Ten spyte van die feit dat die evil queen byde ‘n queen én in drag is, dink ek persoonlik nie aan haar as ‘n drag queen nie. Ek benader die rol as akteur. Die kostuum is baie ongemaklik om te dra, glo my. Nie tipies van drag nie.
HM: Pantomimes is gesinsvermaak, tog word kinders jonger as 13 jr nie by Babes toegelaat nie?
Tobie: Die Britse panto’s het blykbaar baie “blou” geword. Janice glo nog in familie-vermaak.
HM: Daar is ooreenkomste tussen panto’s en Shakespeare, soos die dialoog wat in versvorm geskryf en gepraat word (rhyming pentameters)?
Tobie: Panto is ‘n baie oppervlakkige en plat medium. Dit vereis tegniese vaardigheid en ‘n begrip van hoe komedie werk. En baie, baie energie. Shakespeare se karaters is baie meer eg, meer menslik en verg ‘n diep begrip van die menslike toestand. Miskien dieselfde hoeveelheid dissipline, passie en tegniek, ja. Pantomime het ‘n lang geskiedenis en leen by die Griekse en Romeinse komedie, die Franse commedia dell’arte en die Ballet. Panto dames is ook akrobate en moet baie stamina hê vir die fisiese rolle. In Jack speel ek ‘n klein kort vroutjie wat my noodsaak om aand vir aand op my knieë te speel. In pantomime is die energievlak moeilik om te handhaaf en met klug is die tempo en tydsberekeninge moeilik. Ek benader pantomime en Shakespeare verskillend.
HM: Regie lê jou ook na aan die hart? Wil jy meer hierop fokus?
Tobie: Absoluut. My vuurdoop vir televisie was met die tiener-reeks Sien Jy Nou in die tagtigerjare. Veral verhoogregie lê my na aan die hart maar die bedryf is baie klein in S.A. en ek dink veral as Afrikaanse akteurs word ons gedwing om alles te doen. En ek bedoel alles! Ek doen oorklanking, radio en televisie advertensies, flitse, televisiereekse en nog meer. Ek is ook geintereseerd in Japanese teater. Kom maar van my kleintyd af toe ek baie gelees het daaroor. Thai Chi het ek maar die laaste paar jaar ontdek en ek geniet dit ongelooflik baie. Dit pas my, ek sê nie dit is almal se koppie tee nie maar vir die persoonlike toestand waarin my kop op die oomblik verkeer (my filosofiese denke) en die soort lyf wat ek het, is Thai Chi ideaal. Meditasie is baie belangrik, die staat van totale ontspanning bemagtig jou. Een maal per week kom ek en my vriende en vriendinne bymekaar en beoefen die kuns van iets stadig doen. Ongelooflike terapie, want die res van my dag is gewoonlik dol. Mind you, ek is mos maar ‘n stadige ou.
“Tobie Cronjé, wat in verskeie van Van Pletzen se ander klugte te sien was, anker weer die produksie. Hy lewer vanjaar ‘n wêreldklas vertoning wat nie misgeloop behoort te word nie. Benewens die feit dat hy vir komedie geskape is, is Cronjé se komiese tydsberekening net eenvoudig voortreflik. Hy gee ‘n duiselingwekkende pas aan; wonder bo wonder hou sy mede-akteurs by.” – Resensent oor My Boetie Se Sussie Se Ou
HM: Gehore wat nie 2 Pianos 4 Hands gesien het nie, weet nie dat jy ook ernstige musikant is nie. Hoekom moes ons so lank wag om jou te sien klavier speel?
Tobie: Ek het in Willem klavier gespeel! My eerste kontrak by TRUK was as musikant / klavierspeler in The Fantastics.
HM: Was jy en Kevin Feather nie blootgestel aan kommentaar deur ernstige musikante soos dat ‘die klavierspel relatief goed was vir akteurs nie’?
Tobie: Zanta Hofmeyr het gesê sy was baie beïndruk met die musikale kwaliteit. 2 Pianos 4 Hands is outobiografie. Ted Dykstra en Richard Greenblatt is twee Kanadese pianiste wat mekaar as akteurs ontmoet en besef hulle stories kom baie ooreen, die probleme van klavierlesse, onderwysers en eksamens wat hulle moet deurmaak en so aan. Hulle wou konsertpianiste word, maar was nie goed genoeg nie. Toe word hulle maar akteurs. Dis my storie basis, dis nou nie Kevin se storie nie, want hy is briljant sonder enige musieklesse maar dit is basies op hulle agtergronde baseer met ‘n bietjie borduursels daarby. Ons speel al die karakters (sonder kostuumwisselings) en dit is ‘n hele handvol.
HM: Tobie, jou ma was ook ‘n kranige viool- en klavierspeler?
Tobie: Dit is reg, hoe weet jy dit? Jou navorsing is baie goed. My ma was ‘n briljante violis en sy sou oorsee gaan studeer het maar toe is sy getroud en kort na haar troue het sy geval en haar pols gebreek. Sy kon toe lank nie viool speel nie. Die been het skeef aangegroei en in daardie dae was mediese dienste nie op die standaard wat dit vandag is nie. Nou ja, die been moes weer gebreek word en met ‘n plaat reg gemaak word. Sy het toe baie probleme met haar pols gekry – die linkerpols wat die vioolsnare moet druk, tog het sy aanhou speel. Ek het as kind grootgeword met baie musiek in die huis en al moes ek vroeg saans bed toe (8nm) het ek in die bed lê en luister hoe my ma speel.
HM: Sou jy ‘n eietydse pantomime wou skryf en vervaardig? Een wat wegbeweeg van die bekende feëverhale soos Cinderella en Babes in the Wood – ‘n hedendaagse sprokie dus?
Tobie: Nie ‘n pantomime nie, eerder ‘n multimedium musical.
HM: Jy doen jou eie (spesialis) grimering. Hoe lank neem dit om die transformasie van Tobie na panto dame te ondergaan?
Tobie: Gewoonlik neem voorbereiding, grimering, mikrofoontoets, stemopwarming en aantrek so om en by twee ure.
HM: Is toneelspeel jou hoofbron van ontlading en uitdrukking?
Tobie: Ek dink toneelspel is ‘n manipulasie van emosies en binne ‘n wye raamwerk ook ontlading. Tai Chi is byna ontneem van emosies en binne ‘n rigiede raamwerk ontlading op ‘n baie dieper vlak.
HM: Tobie jy kan in dieselfde asem genoem word as Ian McKellen, Graham Hoadly, John Rich, Frank Bruno, Stanley Morand en Sir Anthony Dowell om maar enkeles te noem. Suid-Afrika se eerste volwaardige Panto Dame! Des te meer hartseer dat jou talent nooit op die wêreldverhoë uitgestal is nie.
Tobie: Baie dankie. Ek berus my en is dankbaar dat ek ‘n bestaan kan maak in Suid-Afrika. As ek beroemd was oorsee sou dit anders gewees het? Inside Out is ‘n oulike fliek maar nie sonder foute nie. Daar is darem al ander goeie flieks gemaak – Manie van Rensburg en Jans Rautenbach se werk onder andere.
HM: Noem ‘n paar gunsteling rolprente, boeke, musiek asook ‘n gunsteling tydperk in jou lewe.
Tobie: Sjoe daar’s baie. Ek meng sommer die mediums, Rhapsody in August van Akira Kurosawa, Der Himmel uber Berlin van Wim Wenders, West Side Story, Six Feet Under, Sex in the City, Die groot verseboek, Aan die Kaap geskryf van Wilma Stöckenstroom, Zen Mind – Beginners Mind van Shuryu Suzuki, die kortverhale en toneelstukke van Anton Chekhov, die klavierkonserte van Chopin, Mendelsohn, Rachmaninoff en Beethoven en Mozart en Bach, Amanda Strydom, Sting, Die Grafsteensangers en nog baie ander. My smaak is baie wyd. Gunsteling tydperke is gewoonlik as ek iets nuuts moet leer soos die repetisietyd van I Love My Wife – ek moes leer om te sing en te dans. Ook 2 Pianos 4 Hands wat ek saam met Kevin Feather gedoen het (ek moes die eerste beweging van Bach se klavierkonsert nr 1 leer) en laasjaar was ek in die Karoo, in Sutherland, vir ‘n TV loodsprogram. Dit was ongelooflik beeldskoon. En in 1989 was ek in Morocco vir ‘n fliek. Dít sal ek altyd onthou. As kleuter sit ek op my ma se arm en kyk na ‘n donderstorm – sy verduidelik dat die wolke hulle koppe stamp en dan huil. In 1973 speel ek saam met Katinka in Babbelkous en Bruidegom. Sy’s wonderlik – dit sal my altyd bybly.
HM: ‘n Gunsteling dier….?
Tobie: Net een kat. Sy’s wit en haar naam is Smudgie want sy’t ‘n swart kol op haar voorkop gehad toe sy klein was. Die veearts se hulle ontgroei soiets.
ª EiNdEª
* Manie van Rensburg
Van Rensburg was S.A. se eerste auteur filmregisseur en het drama reekse vir die SAUK vervaardiger vanaf die middel sewentigerjare tot 1987. En hoewel sensorskap aangaande politieke materiaal hoogty gevier het, het Van Rensburg artistieke en suksesvolle dramareekse en films gemaak.
Willem, ‘n komedie reeks in 10 aflewerings het gehandel oor ‘n privaat speurder se doen en late en aan Van Rensburg sy eerste SAUK Artes toekenning besorg.
Haydee bedank graag vir Christa Heyns van S.A. Media (Universiteit van die Vrystaat) vir die knipsels en resensies oor Tobie Cronjé. Christa ontsien geen moeite om die inligting 9 000km ver te besorg nie.
bydrae: Haydee Morgan-Hollander