In 1487 vertrek die Portugese seevaarder Bartolomeu Dias (1450 – 1500) met sy vloot uit Lissabon in opdrag van Koning João II op ’n sending om die seeweg na Indië te vestig om die suidpunt van Afrika. Sy vloot bestaan uit twee karvele en ’n vragskip.
Gedurende die 15de eeu was daar groot wedywering tussen Portugal en Spanje oor seeroetes na die Ooste. Prins Hendrik die Seevaarder (1394 – 1460) van Portugal het sy land se seevaarders aangespoor om ’n handelsroete na die Ooste te vind om die suidpunt van Afrika. Vir ’n tyd lank was Portugal die belangrikste Europese handelsland.
Die Portugese het die Arabiese Skiereiland as gevaarlik beskou en wou nie oorland na Indië nie. In 1487 het die koning twee spioene na Indië gestuur via Egipte en Oos-Afrika. Hulle moes inligting insamel oor spesery-markte en die moontlikheid van ’n handelsroete om Afrika. Een van die spioene, Pero de Covilhã, het Arabiere aan die ooskus van Afrika teëgekom. Hy het by hulle verneem dat daar na die weskus van Afrika geseil kan word deur suid te vaar.
Soos sy voorgangers volg Dias die kus van Afrika op pad na die suide. Na alle waarskynlikheid land hy by Spencerbaai, Namibië (toe Golfo de São Thomé), maar historici verskil oor of hy werklik by Lüderitz, Namibië (toe Angra das Voltas) aan wal was op pad suide toe. Daar is wel ooreenstemming dat hy sy vragskip aan die Namibiese kus laat.

Sterk teenwinde het Dias se vloot vêr wes laat seil met die gevolg dat toe hy weer oos kon draai hy vêr suid van Kaappunt verby is. Dit was ’n doelbewuste besluit deur sy loods Pero d’Alenquer. Die eerste land wat hy weer vind is Angra dos Vaqueiros.
Die omgewing wes van Mosselbaai is deur hom gedoop Angra dos Vaqueiros (Baai van beeswagters). Dias se bemanning gewaar dit vir die eerste keer op 1 Februarie 1488. Hulle is aan die westekant aan land, by Visbaai, tussen Gouritsmond se Gouritsrivier (Rio delle uache) en die rotskranse van Fransmanshoek. Europese seevaarders sou later gereeld in die area aan wal gaan. Die Khoi-Khoi wat hier gewoon het was suksesvolle beesboere en het die vlote van vleis voorsien. Dit is nie duidelik of Dias hier vleis gekry het nie. Hulle was wel aan wal en het probeer onderhandel met die plaaslike boere. Verder oos kry Vleesbaai later die naam Angra das vaccas (Baai van koeie) van Vasco da Gama. Die Nederlander Paulus van Caerden gee later die Nederlandse weergawe, Vleeschbaai.
Meer wes vind Dias nog ’n rotsagtige punt en net om die draai lê ’n baai beskerm teen die suidewinde. Dias is op 3 Februarie 1488 aan wal om vars water aan boord te neem en doop dit Aguada de Sao Bras (Baai van water), vandag se Mosselbaai. Vir meer as ’n eeu lank sou dit die belangrikste hawe bly aan die Suid-Afrikaanse kus vir Portugese seevaarders.

Teen die tyd wat Dias by Algoabaai kom begin sy bemanning muit. Hy noem die plek Dos Lobos (plek van die rots, maar kan ook plek van wolwe wees). Die naam verander in 1556 na Da Lagoa (plek van die strandmeer), wat mettertyd verander in Algoa. Hy plant ’n houtkruis op Ilheo da Cruz (vandag St Croix-eiland). Dit is hier waar sy bemanning sweer om sy keel af te sny as hy nie omdraai Portugal toe nie.
Dias draai sy karvele om vir die terugtog. In vandag se terme nie vêr van waar die spioen Pero de Covilhã verneem het dat dit moontlik is om Indië om die suidpunt van Afrika te bereik nie.

Op pad terug plant Dias sy eerste padrão (klipkruis) by Kwaaihoek, wes van die monding van die Boesmansrivier.
Hy gaan uiteindelik by Kaappunt aan wal, waar hy nog ’n klipkruis plant op 6 Junie 1488. Hy is die een wat dit eerste noem Cabo da Boa Esperança (Kaap die Goeie Hoop). Sy besoek is egter van korte duur, die Kapenaars van daai tyd steek hom en sy bemanning onder klippe.

In Lüderitz plant hulle Padrao de Santiago, Dias se derde klipkruis.

In 1497 is Vasco da Gama gestuur in ’n suksesvolle poging om die seeroete na Indië te voltooi. Bartolomeu Dias het vergesel hom op die eerste deel van sy reis tot by die Kaap Verdiese-eilande.
Bartolomeu Dias is in die ouderdom van 50 jaar oorlede ter see op ’n sending na Brasilië.
Belangrike voetnota:
Westerse geskiedenis skep meer as gereeld die indruk dat die Portugese die eerste mense was om suksesvol om die suidpunt van Afrika te vaar. Volgens die Griekse historikus Herodotus, het die Egiptenare, met behulp van Feniciese skepe, om die hele Afrika geseil.
Bronne:
Axelson, E. 1988. The Dias Voyage, 1487-1488: Toponymy and Padrões, Volume 189 of Centro de Estudos de História e Cartografia Antiga: Série separatas. Coimbra:Biblioteca Geral – Universidade de Coimbra.
Muller, CFJ (red.). 1968. Vyfhonderd Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Pretoria:Academica.
Raper, PE, Moller, LA & Du Plessis, TL. 2014. Dictionary of Southern African Place Names. Kaapstad:Jonathan Ball.
Ravenstein, EG. 2018. A Journal of the First Voyage of Vasco Da Gama, 1497-1499. Buffalo:Creative Media Partners.