Vasco da Gama (1460 – 1524) vertrek op 8 Julie 1497 om die seeweg na Indië om die suidpunt van Afrika te ontdek. Bartolomeu Dias vergesel hom op die eerste deel van sy reis tot by die Kaap Verdiese-eilande. Da Gama se vloot bestaan uit twee groot skepe, die São Rafael en die São Gabriel, ’n ligte karveel, Berrio, wat dien as verkenningskip, en ’n voorradeskip.

Anders as Dias en meeste ander Portugese seevaarders van die tyd volg hy nie die kuslyn van Afrika nie. Da Gama vaar suidoos oor die Atlantiese Oseaan voor hy vir die eerste keer voet aan wal sit in Suid-Afrika op 7 November 1497 in ’n baai wat hy doop St. Helenabaai.

Op 22 November 1497 vaar hy om die suidpunt van Afrika en bereik Mosselbaai drie dae later. Nie lank daarna nie, op Kersdag dieselfde jaar, bereik Vasco da Gama die huidige Pondoland en gee dit die naam Terro de Natal (Land van geboorte). Vir ’n lang tydperk het Portugese seevaarders die naam gebruik vir die hele suidooskus van Suid-Afrika.

Op 2 Maart 1498 bereik Da Gama Mosambiek. Hier verneem hy van ’n magtige ryk in die binneland; vermoedelik die Zimbabwe van vandag. Hy vaar verder noord langs die kus van Afrika na Mombasa in Kenia en daarna Malindi.  In Malindi sien Da Gama vir die eerste keer Indiese handelaars en hy vind ’n gids om hom oor die Indiese Oseaan te help. Vasco da Gama gaan op 20 Mei 1498 in Kalikoet in Indië aan wal. Hy het met drie van sy vier skepe in Indië geland. Die voorradeskip is, soos beplan, by Mosselbaai gesink. Net ongeveer 55  van die bemanning van 170 het die ekspedisie na Indië oorleef. Juis weens ’n gebrek aan bemanning sink hy sy tweede skip by Malindi tydens die terugtog.

In 1502 onderneem hy ’n tweede reis na Indië en in ’n kort oorlog dwing hy die plaaslike heersers om handelsbetrekkinge met Portugal aan te knoop. Dit is in die tyd dat hy berug raak in Indië as ’n wrede ongenaakbare man weens sy behandeling van Moslems en ander persone wat hy as teenstanders beskou. In 1524 word hy aangestel as die onderkoning van Indië. Hy sterf in dieselfde jaar in die land aan malaria. Hy is aanvanklik daar begrawe, maar in 1539 is hy in Vidigueira in Portugal herbegrawe.

Portret van Vasco da Gama in 1838 deur António Manuel da Fonseca.
Portret van Vasco da Gama in 1838 deur António Manuel da Fonseca.

Bronne:

Muller, CFJ (red.). 1968. Vyfhonderd Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Pretoria:Academica.

Ravenstein, EG. 2018. A Journal of the First Voyage of Vasco Da Gama, 1497-1499. Buffalo:Creative Media Partners.