kykNET Silwerskermfees: ’n Geleentheid soos min!

Kampsbaai beloof om weer van 26 tot 29 Augustus ’n Cannes in die kleine te wees met die vyfde kykNET Silwerskermfees waar daar flieks geëet, gepraat en geleef gaan word.


“Die samekoms is iets besonders en daar word selfs na die fees as die Cannes-filmfees van Suid-Afrika verwys,” sê Karen Meiring, M-Net se direkteur van Afrikaanse kanale. “Hier word diep in die nag gekuier en gepraat, maar nuwe idees kry ook vorm en gestalte en dan word daar besigheid gepraat. En soms, net soms, word langverwagte drome waar.”

Vanjaar se fees het benewens die vyftien kortfilms wat hul première by die fees het, ook verskeie vollengte rolprente en dokumentêre films as deel van die program. Van die vollengte rolprente sal ook hul première by die fees hê.

Soos in die verlede is daar ’n paneel kundiges wat nie net die keuringsproses behartig het nie, maar ook gaan toesien dat die bestes in die verskeie kategorieë weer vereer gaan word. Die toekenningsaand is op Saterdagaand 29 Augustus.

Die kykNET Silwerskermfees het in sy kort bestaan reeds reuse-sukses behaal. Buurtwag, wat in 2012 die toekennings vir beste regie (Jaco Smit) en beste draaiboek (Beer Adriaanse) gewen het, is verder in ’n TV-reeks omskep wat van 30 September op kykNET uitgesaai word. Die regisseur is Adriaanse en van die spelers is Deon Lotz, Albert Maritz en Albert Pretorius.

Buurtwag is maar net een voorbeeld van die sukses,” sê Meiring. “Die fees is ’n belangrike platform waarmee kykNET nuwe idees en konsepte kan vind om te ontwikkel. René van Rooyen was byvoorbeeld in 2012 ’n wenner met die kortfilm Nantes en vanjaar was sy die regisseur van die nuwe reeks van Getroud met Rugby. Corné van Rooyen se Hollywood in my Huis het ’n werklikheid by die Silwerskermfees geword. Bennie Fourie, verlede jaar se wenner met Vuil Wasgoed, is besig met teksontwikkeling vir ’n nuwe komediereeks vir kykNET en was ’n skrywer op Sterlopers onder leiding van Deon Opperman.

Christiaan Olwagen, wie se kortfilm Toevlug in 2013 drie toekennings gewen het, is besig met sy eerste vollengte film, Johnny is nie Dood nie. Dan is daar Gambit Films wat verlede jaar met No 37 gewen het en wat sedertdien by verskeie projekte vir kykNET en kykNET & Kie betrokke geraak het. Hulle het onder meer Ons Stories, ’n reeks van 20 televisiefilms wat vir kykNET & Kie vervaardig is, verfilm. Hulle het ook, ná ’n deeglike tenderproses, opdrag gekry om ’n nuwe Wes-Kaapse sepie, Suidooster, te vervaardig wat van November op kykNET & Kie te sien sal wees.”

Meiring sê die kykNET Silwerskermfees 2015 is beslis ’n plek om raakgesien te word.

“Gevestigde vervaardigers kan hier besluit om in mentorskap betrokke te raak deur onervare vervaardigers te ondersteun totdat hulle die pad op hul eie kan aandurf. Hier is Homebrew Films se mentorskap van Gambit Films ’n uitstekende voorbeeld,” sê sy.

Kaartjies vir die kykNET Silwerskermfees 2015 is beskikbaar by Ticketpro (www.ticketpro.co.za).

Silwerskermfees
Silwerskermfees

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar